Die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum het die afgelope week die Hoër Meisieskool Bloemhof wéér as die beste Afrikaanse Skool in die Wes-Kaap aangewys.
Dié merieteprysuitdelingsgeleentheid, wat Vrydag 17 Februarie 2023 by die Afriforum-teater in Menlopark gehou is, is deur tientalle skole van oor die land heen bygewoon.
Die toekenning is gegrond op die gemiddelde aantal onderskeidings per matriekkandidaat. In Bloemhof se geval het die 2022-matriekgroep ’n gemiddeld van 3,44 onderskeidings per kandidaat behaal. Die Hoër Meisieskool Bloemhof was algeheel sesde in die hele land.
“Skole bepaal die sukses van ‘n gemeenskap. ‘n Sterk skool beteken ‘n sterk gemeenskap; dit lig ‘n hele gemeenskap se sosio-ekonomiese stand op,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).
“As ‘n skool faal, verval die hele dorp of gemeenskap rondom daardie skool.”
Fourie meen Afrikaanse skole se uitstekende resultate is te danke aan moedertaalonderrig tesame met gebalanseerde kultuuroordrag, wat waardes vestig en leerders vir die toekoms toerus.
Enkelgeslagskole het veral uitgeblink – tien van die 20 beste skole in Suid-Afrika met die meeste onderskeidings per kandidaat, is enkelgeslagskole.
Volgens Wilna van Heerden, die hoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof, het ‘n paar goed hulle vir die uitdagings waarmee die matriekgroep van 2022 moes worstel, voorberei. “Ons fokus is nie op prestasie nie – ons fokus is om onsself te verbeter en om te weet wie ons is. Dít, tesame met die feit dat ons kinders ‘n uiters gesonde werksetiek en selfdissipline het, maak ons leerders veerkragtig en gereed vir die toekoms.”
Agt uit die top-20-skole in die land is Afrikaanse skole.