Die Franschhoek-rugbyklub het Saterdag (1 Junie) die kaarte in Superliga B omgekrap toe hy die Van der Stel-Evergreens (VDE)-rugbyklub van sy onoorwonne status beroof het deur laasgenoemde met 26-10 in die Groendal-sportterrein te klop.
’n Gekweste Franschhoek kon eers in die tweede helfte die krane oopdraai en die drieë inryg nadat die eerste helfte baie gelykop verloop het en die wedstryd nog enige kant toe kon swaai.
Die sege was baie belangrik vir Franschhoek, want die tuisspan was oorgehaal om sy nederlaag die vorige week teen Langa te wreek en iemand moes die besoekers se opmars in die liga stuit.
VDE pak juis vir Langa in die Bergzicht-stadion hierdie Saterdag (8 Junie) en wil nie op sy tuisveld gestuit word nie.
Slegs VDE II het as oorwinnaars uit Franschhoek teruggekeer nadat hy met 6-10 gewen het.
Dalk is dit Saterdag weer ’n geval van VDE se nederlaag wreek teen die einste span wat Franschhoek ekstra motivering gegee het om VDE te stuit.
Langa het ook korte mette gemaak met Bellville deur dié span met 42-17 huis toe te stuur. Franschhoek pak Belhar Saterdag op sy tuisveld.
Kylemore is vir die tweede week afgeransel toe Hands & Heart in Kraaifontein in ’n baie eensydige stryd met 45-5 geseëvier het. Kylemore is nie Saterdag in aksie nie en sal sy wedstrydplanne voor sy volgende wedstryd wil aanpas.
Alle oë is op Superliga B gerig, veral omdat die agterosse soos Hamediehs en Collegians nou moet opmaak omdat hulle eers ná die maand van Ramadan met hul ligaverpligtinge begin het.
Hamediehs het juis Saterdag Strand met 54-15 en Collegians vir Hamlets met 30-22 geklop. Hamediehs reis na die Paarl vir sy kragmeting teen Vineyards, terwyl Collegians teen Kraaifontein op laasgenoemde se tuisveld in aksie sal wees.
In Superliga C ontvang Pniël Villagers besoek van Scottsdene-Sentraal en het Pniël die afgelope naweek ’n loslootjie gehad.
In die Suidelike liga het Blue Stars van Klapmuts met 12-5 met Watsonia afgereken. Blue Stars kom Saterdag teen Noordelikes in Elsiesrivier te staan.
In die Noordelike liga het Stellenbosch-Coronations ’n loslootjie gehad en kom Corries die naweek teen Windmeul United te staan. Raithby Universals reis na Gordonsbaai vir sy stryd teen Gordonsbaai Pioneers.
Excelsior het die onbegonne taak om Albions in Paarl te troef.
Intussen het Blakes hom aan die kompetisie onttrek en spanne teen wie hy moes gespeel het, ontvang vyf punte op die punteleer.