Twee Stellenbosse skole is by die nasionale onderwys-toekennings vir hul uitnemendheid in onderwys vereer.
Rhenish Girls’ High School en die Hoër Meisieskool Bloemhof is Vrydag 6 Oktober tydens die glansgeleentheid in Kemptonpark, Johannesburg, onder die land se topdrie-kwintielvyfskole aangewys. Rhenish beklee die tweede plek en Bloemhof die derde plek. Die kategorie is deur nóg ’n Wes-Kaapse meisieskool, Rustenburg Girls’ School, gewen.
Die toekennings word jaarliks deur die departement van basiese onderwys aangebied en fokus op die gehalte van die matriekuitslae en ander aanduidings, en vier uitmuntendheid in leeruitkomste wat ’n beter toekoms aan kinders bied. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die Stellenbosch-skole landwyd onder die topdrie aangewys is.
Dr. Rika Kroon, die akademiese adjunkhoof en waarnemende skoolhoof van Rhenish, het die toekenning aan die harde werk, standvastigheid en veerkragtigheid van die skool se 2022-matriekklas en hul uitnemende uitslae toegeskryf. “Dié uitslae is ook ’n huldeblyk aan die inherente gehalte van ons onderwysers, wat hierdie leerders van gr. 8 tot gr. 12 gekoester het,” het sy gesê.
“Dit is die skool se visie dat elke leerder haar volle akademiese potensiaal bereik, en die passievolle omgee van ons onderwysers voorsien hulle van die vertroue in hul vermoë om uit te blink. Dié matriekklas het dít beter as in ons wildste drome gedoen.
“Die gesegde lui, ‘Team work makes the dream work’ en om die tweede agtereenvolgende jaar tweede onder kwintielvyfskole in Suid-Afrika aangewys te word, is ’n aanduiding dat ons ’n wenspan onderwysers, ouers en leerders het.”
Wilna van Heerden, die skoolhoof van Bloemhof, het die skool se prestasie by die geleentheid aan die skool se personeel toegeskryf. “Gehalte-opvoeders is vakkundiges, wat die ekstra myl stap en hul leerders inspireer. Ek is bevoorreg om so ’n span te hê,” sê sy.
Sy glo ook dit is nie toevallig dat dit net meisieskole in die topposisies is nie. “Die fokus in enkelgeslagskole is op die voorbereiding van kritiese denkers en mense wat ’n verskil in die wêreld van werk kan maak. “Die ontwikkelingsfases van seuns en meisies verskil aansienlik en daarom is daar slegs ’n klein sosiale voordeel in gemengde skole. Hulle kan pouses meng. Ongelukkig ly die akademie egter tydens les-ure onder die uiteenlopende behoeftes.”
Tydens die geleentheid het die provinsiale onderwysdepartement ook ’n spesiale ministeriële toekenning vir provinsies met die hoogste aantal Baccalaureus-slaagsyfers oor die afgelope vyfjaartydperk (2018 tot 2022) ontvang. Die Wes-Kaap het die tweede plek behaal.
Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, het alle leerders, onderwysers, amptenare en skoolbelanghebbendes vir hul harde werk, wat dié prestasies moontlik gemaak het, in ’n verklaring bedank. “Jul harde werk beklemtoon ons toewyding om gehalte- opvoeding aan elke leerder, in elke klaskamer, in elke skool in die Wes-Kaap te bied.”