Afrikaans.com se muurkuns-inisiatief vir 2019 het Vrydag 22 Februarie met sy eerste muuronthullings in Pniël begin.
Hierdie muuronthullings was veral spesiaal omdat dit as deel van die Adam Small-fees plaasgevind het en ’n perfekte huldeblyk aan Small se nalatenskap vir Afrikaans is.
Vir Hoërskool Kylemore sal internasionale Moedertaaldag in die toekoms meer as net ’n herinnering wees aan die liefde vir hul moedertaal. Dié skool pronk nou met ’n pragtige Afrikaans.com-muurkunswerk. Hierdie kleurvolle muurkunswerk is Vrydag 22 Februarie onthul.
“Hierdie muurskildery sal nog jare lank ’n blyk van hoop en inspirasie bly . . . ’n skildery wat die leerders, onderwysers en die gemeenskap sal herinner om bo hul omstandighede uit te styg, groot te droom en trots te wees op hul taal en identiteit,” het René Arendse van Afrikaans.com, gesê.
Afrikaans.com het vanjaar in samewerking met die Pniël- Erfenis- en Kultuurtrust besluit om die Adam Small-fees na skole te neem. Dit is die derde jaar dat die Adam Small-fees in Pniël gehou is en die trust kon met trots toekyk hoe skole, hul leerders en onderwysers met hul muurkunswerke en onthullingsprogramme spog.
Die muuronthulling was ’n hoogtepunt ná dae se harde werk deur Afrikaans.com se kreatiewe span. Soos altyd was die eindproduk ook gewis die wag werd.
Inisiatiewe soos dié is egter nie moontlik sonder vennote wat die passie vir Afrikaans en kultuur deel nie. Hierdie keer was dit ’n voorreg om hande te vat met onder meer Vriende van Afrikaans (’n afdeling van die ATKV), Sasnev (Suid-Afrikaanse sentrum vir Nederlands en Vlaandere), die Moedertaalinisiatief-projek en ambassadeurs vir Afrikaans.com.
Die gasspreker van die dag, prof. Michael Le Cordeur, het die leerders en onderwysers meer vertel van sy dae as student en hoe hy bo sy omstandighede uitgestyg en sukses in en deur sy moedertaal bereik het.
Die rymkletser en ambassadeur vir Afrikaans.com, HemelBesem, het die leerders – soos net hy dit kan doen – in vervoering gehad met sy boodskap van hoop en identiteit.
David Jantjies van die Moedertaalinisiatief het leerders laat skaterlag met sy voorstelling van die verskillende dialekte en net weer beklemtoon hoe belangrik dit is om trots op elke weergawe van Afrikaans te wees.
Almal wat die dag bygewoon het, is dit eens: Hoërskool Kylemore is ’n baken van hoop en groot drome; daarom is dit belangrik om die boodskap by elke leerder tuis te bring:
As jy dit kan droom, kan jy dit doen. Glo net in jouself, wees trots op wie jy is, sprei jou vlerke en werk hard.