Hoërskool Stellenbosch vier vanjaar hul 50ste verjaarsdag.Foto:


Die Hoërskool Stellenbosch vier vanjaar sy 50ste verjaarsdag met verskeie geleenthede. Ná die interskole Woensdag 8 Augustus het leerders, personeel, alumni en ouers nog heelwat feesvieringe om na uit te sien.

Die musiekblyspel Tydloos vind van 20 tot 23 Augustus plaas gevolg deur ’n reünie Saterdag 22 September vir alle oudleerders en -onderwysers, huidige ouers sowel as vriende van die skool. Die feesvieringe sluit Vrydag 19 Oktober met die jaarlikse gholfdag by die Stellenbosch-gholfklub af.

Die skool vier vanjaar die eerste keer sy geskiedenis van 1968 af toe dit as Stellenbosch Handelskool gestig is. Voorheen het die skool slegs sy bestaansjaar van sy oorgang na Hoërskool Stellenbosch in Julie 1977 gevier.

Dit was die eerste model C-skool vir sowel seuns as meisies in Stellenbosch. Die handelskool, wat in die ou Lückhoff-skoolgebou in Banhoekweg gehuisves was, het hoofsaaklik tiksters en sekretaresses opgelewer en het om hierdie rede baie min seuns gehad. Leerders moes handelsvakke soos rekeningkunde, tik en snelskrif neem.

Ben Malan, adjunkhoof, verduidelik ’n behoefte het ontstaan dat ouers graag hul kinders in ’n skool vir meisies én seuns wou hê.

“Met die naamsverandering in 1977 het die getal seuns gestyg en die klem na ouers wat hul kinders in ’n skool vir albei geslagte wou hê, verskuif.”

Leerdertalle het nog gegroei nadat die skool sy kurrikulum uitgebrei het.

Volgens Malan het dit toe ’n skool geword waar leerders van albei geslagte baie kontak met mekaar gehad het en moes saamwerk. “Elkeen het ’n eie identiteit, maar moet die ander geslag leer ken. Ná 1992, toe die kleurgrens verwyder is en ons die eerste leerders ingekry het wat nie wit was nie, het ons rol nog groter geword.”

Vandag is die skool gevestig as een van die topskole in die Wes-Kaap.
. Navrae oor die 50ste verjaarsdagvieringe kan per e-pos by alumni@stellies.com gerig word.

You need to be Logged In to leave a comment.