AfriForum Jeug het in samewerking met AfriForum se afdeling vir jeugleierskap en ontwikkeling die eerste Toekomsskeppersgeleentheid in die Wes-Kaap aangebied.
Die geleentheid was daarop gemik om die nuutverkose gr. 11-leiers toe te rus met spesifieke vaardighede en hulle aan te moedig vir die taak wat voor hulle lê.
Leerders van nege skole in die provinsie, insluitend die Hoërskool Stellenbosch, het deelgeneem.
Die res van die leerders is van die Hoërskool Stellenberg, die Hoërskool Langenhoven, die Hoërskool DF Malan, die Hoërskool Durbanville, die Hoërskool Jan van Riebeeck, die Hoërskool Porterville, die Hoërskool Parel Vallei en HTS Drostdy.
Hui-Mari Meyer van die WIRED Flip the Switch-groep het met die leerders gepraat oor verskillende temperamentsoorte en hoe dit elke mens uniek maak.
Dr. Gillian Arendse, ’n eksperimentele kernfisikus, het die tweede sessie aangebied om vyf praktiese elemente van leierskap te bespreek. Dit het onder meer behels hoe ’n leier moet lei deur ’n voorbeeld te wees, visie moet hê en hoe belangrik dit is om ander te inspireer.
Volgens Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum, is dit belangrik dat kinders van jongs af leer dat almal unieke talente het wat hulle kan gebruik om waarde tot hul gemeenskap te voeg. “Leierskap begin by selfkennis en die bereidwilligheid om ander te dien. Ons is trots op hierdie jong leiers en sien uit daarna om te sien hoe hulle ontwikkel en hulle op hul leierskapsreis te ondersteun.
“Die tema van die dag was ‘Watter soort leier is jy’, en dit het die kern van leierskap ondersoek en die belangrikheid daarvan beklemtoon. Om jou unieke leierskapstyl te verstaan en te gebruik om ’n positiewe verskil te maak, is belangrik en ons by AfriForum Jeug is baie opgewonde om hierdie suksesvolle geleentheid weer volgende jaar aan te bied en voort te gaan om jong leiers vir die toekoms te bemagtig,” sê Yvonne Gerber, AfriForum Jeug se jeugbeampte vir ontwikkeling.