’n Skoolbus wat plaaslike leerders vervoer, het Dinsdagoggend (25 April) buite die Laerskool Idasvallei en Luckhoff Sekondêre Skool aan die brand geslaan.
Millicent Merton, woordvoerder van die departement van onderwys in die Wes-Kaap, het bevestig dat leerders van vier skole – die Laerskool St. Idas, Laerskool Bruckner De Villiers, Laerskool Idasvallei en Sekondêre Skool Luckhoff – met die bus van Jonkershoek gery het.
Die voorval het kort voor 08:00 gebeur.
Leerders van Bruckner De Villiers Primêr, Idasvallei Primêre en Sekondêre Skool was nog op die bus toe hulle rook uit die voertuig se enjin gewaar het. Die bestuurder het onmiddellik afgetrek en hoërskoolleerders het gehelp om laerskoolleerders veilig uit die bus te kry.
Tydens die ontruiming het een van die hoërskoolleerders sy arm beseer. Dit is op die toneel verbind. Niemand is ernstig beseer nie.
“Vier ander hoërskoolleerders is op die toneel behandel vir rookinaseming en is vir verdere waarneming hospitaal toe geneem. Die skole het traumaberading vir die leerders gereël,” sê Merton.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend en sal ondersoek word.
Merton sê die departement sal met die polisie saamwerk om die voorval te ondersoek en alle nodige ondersteuning aan die skole en leerders bied.