Die Klapmuts-plaaswag het verlede week twee politici by sy gereelde landelike patrollies verwelkom.
Die twee het in samewerking met verskeie belanghebbendes ‘n patrollie in die landelike gebiede van Klapmuts uitgevoer, met die doel om misdaad in dié gebied onder die aandag van die Wes-Kaapse regering te bring en moontlike oplossings te bespreek.
John Steenhuisen, minister van landbou, en Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het aangesluit by die patrollie, saam met lede van die Klapmuts-
gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die Klapmuts-raadslid JC Anthony, sowel as verskeie sekuriteitsmaatskappye uit die Stellenbosch-omgewing.
Volgens Erica de Villiers, woordvoerder van Klapmuts-plaaswag en leier van die patrollie, was die doel van die patrollie om politieke verteenwoordigers bewus te maak van die misdaaduitdagings, veral in die landelike gebiede om die dorp.
Sy verduidelik dat die patrollie omstreeks 20:00 begin het, waarna al die belanghebbendes na die buitewyke van die dorp begelei is, insluitend die Protea- en Groenfonteinpad, waar verskeie plase geleë is en waar inbrake glo gereeld voorkom.
Die groep is ook deur De Villiers na die informele nedersetting skuins oorkant die Klapmuts-polisiekantoor geneem, wat aan die N1-snelweg grens.
Hier is die uitdagings rakende die nedersetting met Steenhuisen en Cameron bespreek.
Eikestadnuus het vroeër oor die informele nedersetting berig, wat moontlik bydra tot die toename in misdaad in die omgewing rondom die Protea- en Groenfonteinpad (“Klagtes oor diefstal”, 8 Mei).
Die patrollie het ook by Frankie’s Corner, op die hoek van die R304 en die R101 (Ou Paarlpad), ‘n besoek afgelê om inligting oor dié gevaarlike kruising waar verskeie padongelukke al plaasgevind het, in te win, asook oor die uitdagings verbonde aan die installering van verkeersligte by die kruising.
‘n Sekuriteitsmaatreël wat met Steenhuisen en Cameron bespreek is, is die moontlikheid om hommeltuie as ‘n vorm van misdaadbekamping in te span.
Volgens De Villiers is dié projek, wat deur Klapmuts-plaaswag oorweeg is, voorlopig gestaak weens die administratiewe rompslomp verbonde aan lisensies en toestemming van grondeienaars.
De Villiers beklemtoon dat die patrollie insiggewend was, en dat die wag uitsien na goeie samewerking met die rolspelers om misdaad te bekamp.