Drie jaar nadat sy aangeval is en by die dood omgedraai het, moet Elzette de Ruiter daagliks die verdagtes wat van die gru-aanval teen haar aangekla is, sien.
De Ruiter (41) van Cloetesville is een Saterdagaand in November 2021 deur drie mans met ’n bottel geslaan, gesteek en telkemale geskop en getrap. Hoewel die gehoor in haar regteroor herstel het en sy weer met haar regteroog kan sien, is De Ruiter se gesig “vir altyd geskend”.
“Ek het vir ’n maand sielkundige hulp gekry om te aanvaar wat met my gesig gebeur het. Uiteindelik sal ek seker wegtrek, want ek voel my lewe kan nie werklik aangaan hier nie. Ek is geskend vir die res van my lewe,” vertel sy.
De Ruiter en haar ma, Joline Albertus, is die afgelope paar jaar in en uit die hof vir die saak. Die gesin was Dinsdag (9 Julie) weer in die plaaslike streekhof vir die verloop van die saak.
Albertus meen hoewel sy haar kind daagliks bystaan, is dit hartseer om die gebrek aan ondersteuning van die gemeenskap te sien. Magdelene Blakenberg, ’n gemeenskapsaktivis, sê ongelukkig is geweld teen vroue en kinders ’n daaglikse gebeurtenis in die plaaslike gemeenskap.
Blakenberg meen die hofstelsel faal De Ruiter en vroue soos sy wat beskerm moet word teen diegene wat hulle kwaad aandoen. “Daar is seer vir beide die slagoffer en die beskuldigde. Niks gaan verander voordat ouers bereid is om hul kinders vas te vat nie. Ouers is deesdae gehoorsaam teenoor hul kinders. Daar is geen respek nie. Wanneer ouers begin saamstaan met organisasies en groepe wat teen die geweld uitpraat, sal die jong mense werklik begin besef wat hulle doen, is verkeerd,” meen Blakenberg.
Sy staan De Ruiter en haar geliefdes by tydens die verloop van die hofsaak.
Albertus sê sy voel dit lyk asof slegs sekere slagoffers ondersteuning van die breër gemeenskap geniet. “Niemand word gevrywaar van dié pyn nie. Dit kan met enigeen gebeur. Jaarliks word programme en dae gehou, maar niks verander nie,” meen Albertus.
Blakenberg sê op haar beurt die boodskap wat oor gesinsgeweld verkondig word, is gebrekkig. “Prevention is better than cure. Ons praat verkeerd oor hierdie dinge. Meer fokus moet wees op die voorkoming sodat ons jongmense besef daar word in hulle belê om beter te doen as wat nou aan die gang is.
“Jongmense raak betrokke by die verkeerde dinge. Hoeveel van hulle het nie sport of ander talente nie? Ek het self ’n seunskind wat ek grootmaak. Hy doen sport en ek probeer hom uit die kwaad hou, maar as hierdie die soort dinge daagliks gebeur . . . Daar moet ’n kopskuif kom om die geweld hok te slaan,” verduidelik sy.
Intussen daag Elzette en haar ondersteuners elke keer by die plaaslike hof op vir al die nodige hofdatums in die hoop dat die saak teen haar drie vermeende aanvallers uiteindelik afgehandel word.
Die saak is tot 29 Oktober uitgestel.