Die ontwikkelaars van die luukse Botmaskop-behuisingsontwikkeling is deur die Kaapse hooggeregshof verbied om enige verdere bouwerk te doen totdat die omgewingsmagtiging, wat deur die Wes-Kaap se departement van omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning (DEADP) in Februarie 2021 vir die projek verleen is, ten volle hersien word.
Dit was die uitspraak wat regter Melanie Holderness verlede Woensdag (16 April) gelewer het nadat die Stellenbosch-belangegroep (SBG) hom in November 2024 na die hof gewend het om die omstrede ontwikkeling te stop.
Die Botmaskop-fynbos-landgoed, die Botmaskop-huiseienaarsvereniging en die Stellenbosch-munisipaliteit is onder die 32 respondente wat die SBG hof toe geneem het. Die plaaslike belangegroep betwis omgewingsmagtiging van die projek.
Die tussentydse interdik beteken die stopsit van bouwerk is nie permanent nie. Dit geld egter totdat die hoofaansoek beslis is.
SBG se aansoek het gevra dat die omgewingsgoedkeuring, en ander verwante besluite, insluitende die munisipaliteit se goedkeuring van ‘n “grondruil” met die ontwikkelaars verlede jaar, hersien en tersyde gestel word.
“Die toestaan van ‘n tussentydse interdik is nie appelleerbaar nie. Dit beteken dat geen bouwerk of ontwikkeling van enige aard mag voortgaan totdat die hofaansoek beslis is nie. SBG se doel met die hofaansoek is om die 2003-goedkeuring af te dwing, wat beteken die ontwikkeling word beperk tot sowat 1 ha in plaas van die ontwikkelaar se beplande 8,8 ha, op voorwaarde dat die res van die gebied as ‘n fynbosreservaat gerehabiliteer word,” het die groep verduidelik.
Die SBG voer aan die omgewingsmagtiging, wat in 2021 deur die provinsiale departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning goedgekeur is, is nie geldig vir die huidige projek nie. Hulle meen ook die skade wat weens die ontwikkeling verder aan die berg aangerig sal word, sal “katastrofiese gevolge” hê.
Die saak is in Februarie deur regter Holderness aangehoor, wat haar uitspraak oor die saak voorbehou het. Die ontwikkelaar se plan is om onder meer 77 wooneenhede in die residensiële gedeelte te bou.
Teenstanders van die projek en ook die SBG meen die natuurskoon van Botmaskop, waar die ontwikkeling geleë is, sal in die slag bly.
Die plaaslike plantkundige dr. Brian du Preez het onlangs ‘n bedreigde spesie van die Moraea-plantfamilie ontdek – slegs 50 m van die ontwikkeling af. Ander inwoners meen Stellenbosch se algemene en voortslepende behuisingstekort, veral vir lae tot middelklas-inwoners, moet eers aangespreek word voordat enige verdere luukse blyplekke gebou word.