Hommeltuie help om vrou te kry

Plaaslike buurtwagte, die Groot-Drakeinstein-polisiekantoor en AfriForum se Stellenbosch-buurtwag het kragte saamgespan om ’n vermiste vrou op te spoor.


Plaaslike buurtwagte, die Groot-Drakeinstein-polisiekantoor en AfriForum se Stellenbosch-buurtwag het kragte saamgespan om ’n vermiste vrou op te spoor.

AfriForum-buurtwagte se hommeltuig-vlieëniers het onlangs hul toerusting en kundigheid aan die soektog in erge weerstoestande verleen.

Beamptes van die Groot-Drakeinstein-polisiekantoor het Woensdag 5 Junie AfriForum se Stellenbosch-buurtwag gekontak om bystand te lewer in die soektog na ’n vrou wat in Pniël vermis geraak het.

Die hommeltuig-vlieëniers het die Mavic 3-hommeltuig ten spyte van gure weerstoestande probeer gebruik. Thomas Halbich, die hoofvlieënier van die Stellenbosch-tak se hommeltuigspan, was egter doelgerig om die vermiste vrou op te spoor en die hulp van AfriForum se Overstrand-buurtwag is toe ingeroep. Die Overstrand-buurtwag se groter Matrice 30T (M30T)- hommeltuig, wat gesertifiseer is om in reën en ander gure weerstoestande te vlieg, is van Hermanus af gekry.

Die Overstrand-span het onder leiding van Lourens Theron, ’n hommeltuig-vlieënier, om 11:30 by die Groot-Drakeinstein-polisiekantoor aangemeld en is saam met die Stellenbosch-buurtwag na die Banghoekrivier geneem waar aan albei kante van dié rivier na die vermiste gesoek is.

Inwoners het ook hand bygesit om na die vermiste vrou te soek.

Die M30T het om 12:16 opgestyg en om 14:37 geland nadat dit sowat 14 km afgelê het om die gebied al om die rivier te fynkam.

Die Banghoekrivier, ’n dig beboste gebied, is met die hommeltuig se infrarooi-kamera gefynkam om enige liggaamshitte op te spoor. Danksy dié hommeltuig en die spanne op voetsoolvlak is klere en ’n bril, wat glo aan die vermiste vrou behoort, gekry.

Volgens AfriForum se plaaslike buurtwag is ’n stuk tou op ’n oop stuk grond gevind waar dit aan ’n boom naby die rivier vasgemaak was. Die voortdurende reënval het egter beteken die watervlak was te hoog om verder ondersoek in te stel.

Die vermiste vrou is gevolglik nie dadelik opgespoor nie, maar die polisie het later na die gebied teruggekeer nadat die watervlak gesak het. Dit was toe dat beamptes op die liggaam van die vermiste vrou in die rivier afgekom het. Die polisie het aan AfriForum bevestig dat hulle ’n saak van moord ondersoek.

“Dit was ’n tragiese en hartseer einde aan hierdie soektog. Die gemeenskap, in samewerking met AfriForum se buurtwagte en die polisie, het egter als in die stryd gewerp om die vrou so gou as moontlik op te spoor,” sê Theo Turner, operasionele leier van AfriForum se Stellenbosch-buurtwag.

Turner sê dit was van onskat­bare waarde vir Afri­Forum se Stellenbosch- en Overstrand-buurtwagte om by die soektog betrokke te wees. “Die noue same­wer­king met die polisie tydens die soektog was ’n goeie leer­skool vir die hommeltuig­spanne.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.