Die AfriForum-buurtwag in Stellenbosch het ’n deurslaggewende rol gespeel in die inhegtenisneming van twee vermeende tikgebruikers en ’n vermeende dwelmhandelaar nadat dié buurtwag se hommeltuig die verdagtes waargeneem het.
Die inhegtenisnemings is Dinsdag 6 Februarie tussen 22:00 en 04:00 in die Franschhoek- en Simondium-gemeenskappe tydens ’n optrede in samewerking met die Franschhoek- en Groot-Drakenstein-polisiekantore uitgevoer.
Die plaaslike polisiekantore se doelwit met die optrede was om misdadigers vas te trek in gebiede waar dwelmhandel en kabeldiefstal hoogty vier.
Die buurtwag se hommeltuigspan, bestaande uit vier lede in die buurtwag se lugvleuel, het sowat 300 m van elke teikenarea af stelling ingeneem en die hommeltuig vir ’n verkenningsvlug opgestuur. Nadat die teikengebeid met die hommeltuig se nagsigkamera verken is, het die polisielede inbeweeg.
Tydens die polisie se patrollie het die hommeltuig in die lug gebly om enige verdagtes te volg en die polisie op hul spoor te hou. Die oordrag van inligting tussen die hommeltuigspan en die polisie was baie doeltreffend as gevolg van ’n nuwe vlugopnemer wat onlangs vir die hommeltuig aangeskaf is.
Die vlugopnemer, wat soos ’n koffer lyk, is spesiaal gebou om die span se bedryfsdoeltreffendheid en uithouvermoë te verbeter. Dit is deur AfriForum se Stellenbosch-tak gefinansier en deur lede van die buurtwag ontwerp en gebou.
Die vlugopnemer beskik oor al die nodige toerusting om die hommeltuig vir minstens agt ure in die lug te hou. Dit het voldoende interne ruimte om die hommeltuig, batterye, radio’s, nagsigteleskoop en ander toerusting te berg en het ook ’n groot litiumbattery met laaisokke om die hommeltuig en radio’s se batterye te laai.
’n Platskermtelevisiestel is aan een kant in die vlugopnemer gemonteer waarop die hommeltuig se perspektief uitgebeeld word. Dit was voorheen moeilik om die taktiese situasie vir die polisie te wys, maar nou kan hulle maklik sien wat die hommeltuig opneem.
Die AfriForum-buurtwag in Stellenbosch is in sy skik met die eerste operasionele ontplooiing van die hommeltuig-vlugopnemer. Die opnemer het dit moontlik gemaak om die hommeltuig langer in die lug te hou en die vermeende misdadigers se bewegings te beperk.
Die platskermtelevisiestel het ook kommunikasie met die polisie verbeter. Ontplooiing en demobilisasie van die hommeltuig by elke teikenarea is ook versnel.
Buiten die inhegtenisnemings is die polisie en die buurtwag se teenwoordigheid in gebiede wat deur kabeldiefstal geteister word, versterk.
“AfriForum se Stellenbosch-buurtwag beskou sy verhouding met alle wetstoepassers in die gemeenskap as ’n prioriteit. Daar is ’n groeiende behoefte vir lugverkenning wanneer die polisie optredes in die gemeenskap uitvoer,” sê AfriForum in ’n verklaring.
“Die buurtwag se ondersteuning met die hommeltuig verskerp die polisie se doeltreffendheid en lede se professionele optrede het ook verseker dat hy genader word om by toekomstige plaaslike polisieoptredes betrokke te raak.”