In die nasleep van die brand is daar bevind dat sowat 25 strukture vernietig, en 17 strukture beskadig, is.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Meer as 100 mense van die Mandela City-informelenedersetting in Klapmuts is Maandagnag dakloos gelaat ná ’n brand omstreeks 19:20 losgebrand en tientalle strukture verwoes het.

So bevestig die Stellenbosch-munisipaliteit se woordvoerder, Stuart Grobbelaar, aan Eikestadnuus.

“In totaal is sowat 25 informele strukture vernietig, sowat 17 is beskadig en net meer as 100 mense is geraak.”

By aankoms op die toneel was ongeveer 40 hout- of ysterstrukture aan die brand, sê hy.

“Ons spanne het daarin geslaag om die vlamme vinnig te blus, wat die skade aan omliggende eiendomme beperk het.”

Die Stellenbosch-brandweer het dadelik gereageer en binne minute was 18 brandbestryders in 11 voertuie op die toneel om die brand te blus.

Geen sterftes of ernstige beserings is aangemeld nie. Die oorsaak van die brand is nog onbekend en sal ondersoek word.

Ten slotte, sê Grobbelaar, die Stellenbosch-munisipaliteit se rampbestuursafdeling tesame die gemeenskapsdienste-afdeling koördineer tans ramphulppogings.

“Ons fokus op die verwydering van rommel, skoonmaak van die geaffekteerde area, die heraansluiting van elektrisiteit, die voorsiening van noodbrandstelle en die voorsiening van twee maaltye per dag aan geaffekteerde gesinne.”

You need to be Logged In to leave a comment.