Honderdjarige verklap geheim vir lang lewe

’n Eeu op aarde is ’n merkwaardige mylpaal en vir Esmé Steenkamp was dit ’n dag van viering.


’n Eeu op aarde is ’n merkwaardige mylpaal en vir Esmé Steenkamp was dit ’n dag van viering.

Esmé is op 18 September in Johannesburg gebore en het as student in Stellenbosch beland. Hier het sy musiek studeer en was pianis en begeleier vir die Stellenbosch-konservatorium. Musiek was daarom altyd deel van haar lewe.

Sy was ook deel van die groep vroue van Stellenbosch wat in 1942 besluit het om maandeliks byeen te kom en vir mekaar konsert te hou. Die Troubadours het in 2022 hul 80ste bestaansjaar gevier en Esmé was byderhand. Sy is beskou as een van die Troubadours se gewaardeerde lede. Sy was ook die oudste lid en het tot diep in haar negentigerjare steeds opgetree.

Dit is dus geen verrassing dat Esmé se gunsteling-herinnering haar klavieroptrede saam met José Lopez in Port Elizabeth in die grootste saal vir musiek in die land is nie.

Deesdae is Esmé by Le Clémence se Bonheur, waar ’n spesiale partytjie op die groot dag vir haar gehou is. Sy woon sedert 2021 hier en sê sy woon lekker in die aftreeoord. Die Bonheur-span kyk goed na haar, sê sy.

Sy het hier, met hul hulp, reeds van erge siekte herstel.

Esmé het drie kinders – Krause, Lenie en Kristien – grootgemaak en sy en wyle Willem Steenkamp was baie gelukkig getroud.

Musiek bly steeds ’n passie, hoewel Esmé bieg sy sal nie meer optree nie –uit vrees sy sal “ ’n fool” van haarself maak.

Op ’n vraag wat haar geheim tot ’n lang lewe is, sê Esmé sy baklei met niemand nie. Wat sy wel doen, is om ’n lekker tjoppie en ’n koppie tee te geniet.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.