Kan daar iets goeds uit Jamestown kom? Dié skeptiese vraag is vierdubbelkeer deur vier Jamestowners verkeerd bewys, deurdat ’n rekordgetal van vier skoolhoofde in die Stellenbosch-omgewing van hier is.
“As ’n mens sou terugdink aan Jamestown en die geskiedenis van die gemeenskap, sou jy nie gedink het dat vier skoolhoofde uit hierdie gemeenskap sou kom nie. Jamestowners het oor die jare bekend gestaan as die patat-trappers, maar vandag is daar vier hoofde oor Stellenbosch heen uit hierdie gemeenskap,” sê Wayne Anthony, skoolhoof van Weber Gedenk Primêr in Jamestown.
Burton Williams, skoolhoof van St. Idas RK Primêr in Idasvallei, sê hierdie prestasie is te danke aan goeie rolmodelle en die passie vir onderwys.
“Ons was bevoorreg om goeie rolmodelle te hê in ons voorgangers wat vir ons die pad oopgetrap het om ambisie te hê en vir hoër dinge te mik.”
Rodger Cupido, hoof van die Laerskool Cloetesville, beaam beide Anthony en Williams se sentimente en sê: “Om beter te wil doen en te presteer is die dryfkrag agter ons prestasie. Ons het ons omstandighede gebruik om ons te motiveer om beter te doen en hoër te mik.”
Die skoolhoof van Idasvallei Primêr, Anton Gordon, sê hy is trots daarop om met sy kollegas en mede-Jamestowners vereenselwig te word. En al is hy nie soos die ander drie in Jamestown gebore nie, is Jamestown reeds sy tuiste vir die afgelope 27 jaar.
“Ek wou altyd in Jamestown woon, my kinders is gebore Jamestowners en ek is die afgelope 27 jaar hier gevestig. My kerk is hier en die gemeenskap is absoluut wonderlik. So ja, ek is al ’n Jamestowner,” sê hy.
Die hoofde spreek uit een mond wanneer hulle sê dit is ’n trotse gevoel om as Jamestowners na ’n hoofde-vergadering te gaan.
“Hulle spot altyd met ons en sê daar kom die Jamestown-mafia,” vertel Williams.
Nes hul persoonlikhede en agtergrond verskil, het hierdie vier se loopbane verskillende draaie gemaak.
“Ons het almal ons eie paadjies gestap, ek het in 1994 hier by Weber Gedenk begin. En dit was my besluit, waar my kollegas se ambisie hulle na ander gebiede geneem het. Dit is belangrik vir jong onderwysers om te weet wat hulle uit hul loopbaan wil hê en net daaraan te werk,” sê Anthony.
Cupido voeg by dat hy by 12 ander skole was voor hy by Cloetesville aangesluit het.
“Ek het my onderwysloopbaan hier by Weber Gedenk begin, maar moes ’n wye draai loop tot waar ek vandag is. ’n Mens word geroep en jou lewe neem jou in verskillende rigtings tot daar waar jy ’n verskil kan maak. Skole en die onderwys is ’n baken van hoop.”
Gordon se raad aan jong onderwysers is om elke geleentheid aan te gryp om te leer en te groei in die onderwys.
“Ek was vir 20 jaar ’n departementshoof en het in dié tydperk baie by my voorgangers geleer. Dit was manne wat jou geleenthede gebied het om te groei en te leer. Moenie dink dit is ekstra verantwoordelikheid waarvoor jy nie betaal word nie, neem dit as ’n geleentheid om te leer van die prosesse en vaardighede,” sê Gordon.
Williams sê daar sal altyd ’n plek vir onderwys in die samelewing wees en dat dit net passie vir die beroep is wat jou staande laat bly.
“As jy na die onderwys kom vir die geld, is jy in die verkeerde beroep. Jy moet onderwys doen om ’n verskil, nie net in kinders se lewe te maak nie, maar ook die gemeenskap.”
Dié vier moedig jong onderwysers aan om nie moed te verloor nie. “Volg jou eie paadjie en streef daarna om ’n verskil te maak.”