’n Groep skoolhoofde en sakeleiers het verlede week hul twaalf maande lange program van die organisasie Partners for Possibility (PfP) suksesvol voltooi.
Die program skep die geleentheid vir skoolhoofde om in vennootskap met ’n plaaslike sakeleier te tree en in die proses in die kennis, ondervinding en netwerk van die sakeleier te deel, aldus Jessica Batts, PfP-fasiliteerder in die Wynland-streek.
Terselfdertyd word die sakeleiers blootgestel aan ’n omgewing wat aan hulle onbekend is. Die skoolhoof en sakeleier komplementeer mekaar en die sakeleier ontwikkel groter begrip en respek vir die uitdagings wat skoolhoofde daagliks konfronteer.
Vier van die skole is in die Stellenbosch-omgewing, naamlik die PC Pietersen Primêre Skool (skoolhoof Shauib September saam met Phillip Poole van FNB), Vlottenburg Primêre Skool (skoolhoof Grantham Jansen saam met Lester Combrinck van Lester Combrink Consulting & Trading CC), Laerskool Brückner de Villiers (skoolhoof Franklin September saam met die onafhanklike konsultant Adrian Parsadh) en Simondium Primêre Skool (waarnemende adjunkhoof Karen Adams saam met Marcia Williams van Nedbank).
“Afgesien van die persoonlike ontwikkeling en groei wat albei partye in die proses ervaar het, het ons skole ook baat gevind by baie ander vennootskappe en geleenthede wat ’n uitvloeisel van die vennootskap was.”
Die fokus van die program was opleiding en bemagtiging van opvoeders en skoolbeheerliggame, asook blootstelling aan die groter sakesektor.
PfP het sedert verlede jaar bykomende opleiding beskikbaar gestel deur die aanbieding van ’n skoolleierskapforum wat geleenthede vir debatvoering oor belangrike skoolverwante aangeleenthede skep.
Die forum-byeenkoms word tans elke drie maande by Klapmuts Primêre Skool aangebied.
V
PfP beplan om die volgende groep vennootskappe aan die einde van Oktober uit te rol. Enige belangstellendes kan e-pos na Batts stuur by jessica@symphonia.net of haar by 082 496 3228 bel.