Anna-Marree Thomas, die huurder van ’n munisipale woonstel in Cloetesville, se badkamerplafon nadat dit die afgelope winter ineengestort het.Foto: Yaël Malgas


’n Jaar nadat sy in die Melody-woonstelblok in Rhodestraat, Cloetesville, ingetrek het, het herstelwerk uiteindelik begin om die woonstelblok se lekkende dak te vervang.

Anna-Marree Thomas en haar gesin van vier het verlede Augustus by dié munisipale tweeslaapkamerwoonstel ingetrek. Die afgelope maand het Thomas geweier om haar huur vir dié woonstel te betaal, gegewe die toestand van die plafon. Met die winter se reënweer het die lekkende dak gelei tot reënwater in een van die slaapkamers en water wat in die badkamer se plafon opgedam het.

“Die water het afgestroom. Ek moes net keer dat niemand skok nie, dus het ons onmiddellik die krag afgeskakel. Daarna het ons die gloeilamp uitgehaal uit vrees dat ons sal skok,” sê sy.

So erg was die waterskade dat die hele gesin in die ander slaapkamer moes slaap. Die tweede vertrek het intussen ’n pakplek geword.

In die badkamer is die saak nog erger. Hier kon die plafon nie die reënwater weerstaan nie en die helfte van die plafon het ingestort. Die gesin het intussen kartonbokse in die dak gedruk om die ergste nat en koue uit te hou.

Thomas meen hoewel die winterweer besig is om te kwyn, moes die Stellenbosch-munisipaliteit reeds die plafon herstel het.

“Ek glo ek het al met almal in die Cloetesville-behuisingskantoor hieroor gepraat. Hulle is vol verskonings. Eers het hulle gesê daar is geld in die nuwe finansiële jaar om die woonstelblok se dak te vervang, want dit is die eintlike probleem. Toe sê hulle omdat dit asbes is, moet die een of ander kundige uitkom om na die dak te kyk, maar dit het ook nog nie gebeur nie. Ek kan nie antwoorde kry oor wanneer die werk nou regtig gaan begin nie,” sê Thomas.

Sy vertel ander inwoners kla oor soortgelyke probleme.

By navraag het Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, verduidelik werk om die dak te vervang het Dinsdag begin.

“Die woonstel het ’n lekkende asbesdak wat met Kliplok vervang moet word. ’n Kontrakteur is op 26 Augustus 2024 aangestel. Aangesien dit asbes behels, moet die werk aan streng asbesverminderingsregulasies voldoen en die kontrakteur moet permitte van die departement van arbeid kry vir die veilige verwydering en wegdoening,” verduidelik hy.

Grobbelaar voeg by Thomas se plafon kon slegs vervang word nadat die werk aan die woonstelblok se dak voltooi is.

Instandhoudingsklagtes word deur munisipale spanne hanteer, of ’n kontrakteur indien nodig, omdat hy verantwoordelik is vir die strukturele herstel.

Op hul beurt is huurders soos Thomas verantwoordelik vir die instandhouding van die eenhede “soos uiteengesit in hul huurooreenkoms”.

Vandeesweek is inwoners ingelig dat werk aan die woonstelblokke se dakke sal begin en Thomas sê sy wag in spanning om te sien wanneer haar woonstel se plafon vervang sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.