Ek verwys na die voorbladartikel van 26 Januarie 2017, geskryf deur Elze Goosen.

Baie dankie vir die plasing van die berig op die voorblad. Ek vra mooi dat jul die vinger op hierdie relevante pols sal hou, aangesien selfoontorings vanaf 2014 nie meer ’n “listed activity” is nie en dus nie meer onderhewig is aan die publieke proses wat gepaard gaan met impakstudies nie. Ek wil net my volle ondersteuning vir hierdie beriggewing gee. Die breë publiek sou andersins in die duister gelaat word en ek is redelik oortuig ek is een van ’n koor van stemme wat vra dat u aanhou om ons in te lig betreffende die verdere ontwikkeling van selfoontorings.

Alhoewel ek heeltemal verstaan dat baie mense beter ontvangs verlang en dat ontwikkeling noodsaaklik is, is daar steeds ’n warm debat onder wetenskaplikes in terme van die negatiewe langtermyninvloed van selfoontorings op die nabye omliggende gebied. Daarom voel ek die lukrake manier waarop die plasing van torings tans in Suid-Afrika geskied, is nie aanvaarbaar nie – dit geld veral vir die plasing van selfoontorings in woonbuurtes en te meer nog by kleuterskole of ander instansies van opvoeding, insluitend tersiêre instansies.

Daar is wêreldklas wetenskaplikes wat waarsku teen die invloed op molekulêre vlak van die liggaam.

Stephanie Dippenaar,

Stellenbosch

You need to be Logged In to leave a comment.