’n Nuwe toestel, genaamd die AfriSpacer™, wat dit makliker en meer doeltreffend maak om medikasie via ’n asmapomp in te neem, is pas deur die Allergiestigting van Suid-Afrika (Afsa) in Suid-Afrika bekend gestel.

Dié toestel, wat ’n prototipe van ’n plastiek-koeldrankbottel is, is ontwerp deur ’n span biomediese ingenieur-alumni wat saam met prof. Mike Levin, die uitvoerende hoof van Afsa, gewerk het.

Die AfriSpacer™ is ’n verdeler wat die spoed van ’n asmapomp se sproei vertraag en jou help om meer medikasie in jou longe in te neem. Dit word vir alle kinders en volwassenes, wat sukkel om hul asma te beheer, aanbeveel. Die toestel is van Julie in Suid-Afrikaanse apteke teen ’n bekostigbare bedrag beskikbaar.

Die toestel se bekendstelling is tydig, aangesien Wêreldallergieweek – ’n jaarlikse wêreldwye gebeurtenis wat bewusmaking vir allergieë en die moontlike ernstige gesondheidsimplikasies skep – in Junie plaasgevind het. Die tema vir vanjaar is allergiese asma en fokus daarop om mense oor die verbintenis tussen asma en allergieë in te lig.

Prof. Levin verduidelik allergiese lugwegsiektes in die respiratoriese stelsel is van die algemeenste chroniese siektes in mense. Asma raak meer as 350 miljoen mense wêreldwyd en allergiese rinitis raak tussen 10% en 50% van die samelewing, gebaseer op hul geografiese ligging.

“Die verbintenis tussen asma en allergiese lugwegsiektes is belangrik. Dit is algemeen bekend dat asma en allergieë in die boonste lugweg dikwels saam voorkom. Dit kan lei tot asemhalingsprobleme, hyg, hoes en ander respiratoriese probleme. Om asma en boonstelugweg-allergieë saam te behandel, help om albei probleme te verbeter,” sê prof. Levin, wat ook hoof van die asma- en allergie-afdeling in die pediatrie- en kindergesondheidsdeparte­ment aan die Universiteit van Kaapstad is.

Prof. Claudia Gray, ’n pediater, allergoloog en uitvoerende komiteelid van die Allergievereniging van Suid-Afrika (Allsa), verduidelik die konsep van die “verenigde lugweg” is belangrik wanneer dit handel oor die beheer en behandeling van allergieë en asma. “Die neus en die bors is deel van een stelsel – die verenigde lugweg. As nasale simptome nie reg behandel word nie, kan dit tot swakker beheer oor asma lei, en ons moet onthou om nasale allergieë vroegtydig en doeltreffend te behandel om sodoende asma-simptome so goed as moontlik te behandel.

“Nasale- en borssiektes gaan dikwels saam met tot 38% van pasiënte met allergiese rinitis (AR) wat gepaardgaande asma het, en tot 80% van asmalyers wat aan allergiese rinitis ly,” sê prof. Gray. “Hoewel allergiese rinitis se simptome dikwels as irriterend eerder as ernstig beskou word, toon baie studies indien allergiese rinitis nie goed bestuur word nie, kan dit tot komplikasies soos asma lei.”

Prof. Levin en prof. Gray se raad is indien jy ’n allergielyer is, moet jy jou simptome ernstig opneem en jou allergieë behoorlik bestuur om die risiko om asma te ontwikkel, te keer. “Gee aandag aan die verenigde lugweg en dink: Die bors begin by die neus. Dis belangrik om te verstaan hoe asma en lugweg-allergieë verbind is. Deur bewus te wees, dit wat allergieë veroorsaak so ver moontlik te vermy en deur doeltreffende behandeling, kan pasiënte hul lewensgehalte verbeter en makliker asemhaal.

“Vir mense wat aan asma ly, is dit belangrik om asma met gereelde voorsorgbehandeling te behandel, selfs wanneer geen simptome teenwoordig is nie, om sodoende die allergie te beheer en ’n potensiële asma-aanval te vermy. Beheermedikasie is op hul doeltreffendste wanneer dit direk in die longe deur middel van ’n asmapomp of ’n droëpoeier-inhaleerder ingeneem word.

Afsa het pas die nuwe AfriSpacer™ bekend gestel, wat longafsetting deur ingeasemde medikasie deur ’n asmapomp verbeter. Die toestel maak dit makliker en meer doeltreffend om medikasie deur ’n asmapomp in te neem.”. Lesers wat nog inligting oor asma en allergieë wil lees, kan die Afsa-webtuiste Asthma – AFSA (allergyfoundation.co.za) besoek of die allergiestigting van Suid-Afrika by 081 405 8442 of per e-pos by info@allergyfoundation.co.za kontak.

Volg ook @SAallergy op Instagram, Twitter @SAallergy en Facebook @SAallergy.

You need to be Logged In to leave a comment.