‘Hou jul hande van rektor af!’

’n Groep van sowat 50 personeellede van die Universiteit Stellenbosch het Maandagoggend (17 April) voor die Admin B-gebou ter ondersteuning van prof. Wim de Villiers, die rektor en visekanselier, vergader.


’n Groep van sowat 50 personeellede van die Universiteit Stellenbosch het Maandagoggend (17 April) voor die Admin B-gebou ter ondersteuning van prof. Wim de Villiers, die rektor en visekanselier, vergader.

Die betogers het voor die raadsitting, waarin ’n mosie van wantroue teen De Villiers gebring word, teen politieke inmenging betoog.

Die mosie ingevolge afdeling 42 (3) van die US Statuut – om De Villiers van sy amp te onthef – is deur dr. Leon Schreiber (DA-LP en Stellenbosch- verkiesingshoof) voorgestel en deur dr. Jan Heunis gesekondeer.

“Ons het net skielik gisteraand boodskappe ontvang dat ons by Admin B moet aanmeld om die rektor en registrateur te ondersteun,” het een van die betogers, wat anoniem wil bly, Maandag aan Eikestadnuus gesê. “Ek was by die betoging – nie omdat ek sê die optrede van die rektor was korrek nie, maar ons kan nie toelaat dat vier ou witmans namens ons besluit nie,” het die personeellid gesê.

“Ons voel die beleid is verkeerd geïnterpreteer, maar dit beteken nie die rektor moet nou bedank nie. Meningsvolle ondersoeke moet gedoen word,” het ’n ander betoger gesê.

Die betogers het voor die raadsitting, waarin ’n mosie van wantroue teen Prof Wim de Villiers gebring word, teen politieke inmenging betoog.Foto: Francois Lombard

Luidens ’n mediaverklaring deur die US het die raad ná ’n omvattende debat ooreengekom die kwessie moet eers na ’n raadskomitee bestaande uit drie mense, van wie een ’n onafhanklike regsgeleerde moet wees, verwys word. Die komitee sal die feite onderliggend aan die mosie ondersoek, waaronder bewerings van nepotisme en ’n moontlike oortreding van die betrokke reëls oor die rektor se diskresionêre plasings en die plasing van familielede van die rektor en visekanselier.

De Villiers word van nepotisme beskuldig nadat dit aan die lig gekom het dat hy universiteitstoelating aan twee familielede ingevolge die diskresionêre plasingsbeleid toegestaan het.

Die nuutverkose raadsvoorsitter, dr. Nicky Newton-King, het Maandag gesê “die bewerings van nepotisme is ernstig” en die raad besef die impak van hierdie kwessie op die US se belanghebbendes. “Sodra die raad die komitee se verslag ontvang het, sal die verslag evalueer en die mosie deur dr. Schreiber oorweeg word. Die raad besef hoe belangrik dit is om hierdie kwessie as ’n saak van dringendheid te hanteer en is daartoe verbind om dit op ’n wyse te doen wat regverdig is teenoor die universiteit sowel as die rektor, en op ’n manier waarop die instelling se belangegroepe vertroue kan hê,” het Newton-King gesê.

“Ons verwelkom die geleentheid vir noukeurige ondersoek en refleksie, wat ons in staat sal stel om die hoë standaarde te handhaaf waarvoor ons bekend is en om aandag te gee aan sake waarop moontlik verbeter kan word. Ek wil die versekering gee dat die stabiliteit en kontinuïteit van die universiteit in hierdie stadium ons prioriteit is,” het sy gesê.

Luidens die verklaring het die raad ook besluit die kwessie oor die rektor se diskresionêre plasings moet in geheel deur die relevante akademiese oorsigstrukture vir oorweging deur die raad beoordeel word.

Schreiber het die verskoning wat die US uitgereik het oor gevalle wat in die Menseregtekommissie se verslag oorweeg is, verwelkom.

Hy het bevestig die mosie is gegrond op bewerings van nepotisme en gesê dit sal as ’n saak van dringendheid ondersoek word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.