Asof die Real Housewives van die Wynlande nog nie genoeg amok veroorsaak het nie, was hulle verlede week indirek verantwoordelik vir ’n gedeelte van Klapmuts wat vir bykans twee dae sonder krag was.
Motoriste was onlangs heel geamuseerd toe hulle reusebaniere van die huisvroue knap langs die N1 sien staan het.
Maar Maandag (29 Mei) was daar ’n herrie hieroor op Klapmuts, toe een van die baniere in ’n rukwind losgekom het en teenaan Eskom oorhoofse kragdrade vasgevlieg het. As gevolg hiervan het verskeie plase in die gebied se krag afgeslaan en so gebly vir ongeveer 48 uur.
Eskom het glo die grondeienaar waar die baniere opgerig is gewaarsku dat die baniere te naby aan die kabels was. Maar die staalstellasies waarop die baniere was is ten spyte hiervan opgerig.
Die nasionale padagentskap Sanral, wie die nodige permitte vir sulke strukture langs nasionale paaie goedkeur en uitreik, het aan Eikestadnuus gesê dat hierdie advertensiestrukture onwettig opgerig is.
Randall Cable, Sanral se Wes-Kaapse streeksbestuurder het gesê: “Dit is onwettige advertensiestrukture wat langs die N1 opgegaan het, waarvoor geen magtiging gegee is nie. Dit is in stryd met die Sanral-wet en -regulasies en Sanral sal die nodige verwyderingskennisgewings aan die onderskeie oortreders beteken.”
Ook Eskom het ’n waarskuwing gerig aan kontrakteur wat die onwettig naamborde opgerig het en sé dat hulle kritieke infrastruktuur langs die N1 verby Klapmuts betree het.
Die kontrakteur het sedertdien al die seile van die strukture verwyder en sal ’n datum met Eskom kommunikeer om elektrisiteitstoevoer af te skakel sodat hulle die staalstrukture veilig kan verwyder.
Eikestadnuus het die vervaardiger van Real Housewives van die Wynlande om kommentaar hieroor genader en is verwys na die advertensiekontrakteur wat die strukture en baniere laat oprig het.
Die advertensiemaatskappy wat verantwoordelik was hiervoor, wou nie kommentaar lewer nie.