Van die eregaste wat die spesiale byeenkoms bygewoon het, is agter van links ds. Desmond Meyer (oudleerder), Jeremy Geldenhuys (voormalige departementshoof) en Nicky Ceasar (oudskoolhoof). Voor is Dorian Meyer, die huidige skoolhoof, Marechia Pretorius, weduwee van wyle mnr. J. Pretorius en Aldon April (oudskoolhoof). Foto’s: Elmarine Anthony


Hoërskool Cloetesville, wat vanjaar sy 40ste bestaansjaar vier, het die feesvieringe Vrydag 12 April met ’n spesiale byeenkoms begin.

Verskeie oudpersoneellede en leerders is na die geleentheid genooi en die leerders het koeldrank en koesisters danksy oudleerders ontvang.

Personeel en oudpersoneel het die byeenkoms gebruik om te reflekteer op die skool se geskiedenis sowel as die skool se vele sport- en kultuurprestasies.

Hulde is ook gebring aan twee oudpersoneellede wat intussen dood is. ’n Gedenkplaat ter ere van G. Minnaar (1979-1984) en J. Pretorius (1982-2005) is in die voorportaal onthul.

Aldon April, die skool se eerste skoolhoof van 1979 tot 1989, het leerders aangemoedig om mekaar, hulself, hul ouers, onderwysers en die skool te respekteer.

Hy het ook onthou hoe dit aan die begin was toe die skool net gestig is. “In 1979 het hierdie skool begin met 623 leerders en 21 opvoeders. Ons het in vyf jaar gegroei tot meer as 1 100 leerders met 58 onderwysers. Toe ek hier weg is, was hier meer as 1 300 leerders en 65 onderwysers. Elkeen se rol was belangrik. Van die belangrikste mense hier by die skool was ons opsigters en die skoonmakers en skoonmaaksters. Netheid was baie belangrik. Jy word in ’n skoon, netjiese plek opgevoed.”

April het leerders verder aangemoedig om die skool hul trots te maak. “Ons het fantastiese geleenthede by die skool gehad. Skoolfooie was R1. Dit het later gestyg tot R2. Intussen het Suid-Afrika ’n demokrasie geword. Almal het nou geleenthede.”

Volgens April het hulle destyds niks gehad om die skool mee te begin nie en moes toerusting op skuld koop. Vandag se leerders het egter meer tot hul beskikking en moet dit en die skool dus respekteer, sê April. “Leerders moet trots wees op die skool. Die skool is uit niks nie gebore. Julle moet altyd jul skooldrag met trots dra.”

April het ook genoem hy weet party leerders woon nie in die beste sosiaal-ekonomiese omstandighede nie, maar dat daar wel talle oudleerders is wat nie toegelaat het dat omstandighede hulle agterhou nie en ’n sukses van hul lewe gemaak het. “Hier is baie oudleerlinge wat uit hul omstandighede opgestaan het. Die een ding wat hulle dra, is die skool se leuse, ‘Net jou beste’. Daai leuse het uit ons omstandighede gekom.”

You need to be Logged In to leave a comment.