’n Nuwe koffietafelboek wat die geskiedenis van ’n plaaslike Stellenbosch-skool vasvang, word Saterdag (25 Junie) bekendgestel en beloof om boekwurms insiggewend te verras.
Die boek Universiteit van die Vlakte, geskryf deur Stanley D. Amos, ’n Lückhoff-alumnus, is op die geskiedenis van die Hoërskool Lückhoff in 1935 gegrond. “In die boek praat ek oor wat in 1935 by die skool gebeur het asook dele van die skool en Stellenbosch se geskiedenis voor 1935,” verduidelik Amos.
Hy sê hy wil deur die Universiteit van die Vlaktes erkenning gee aan mense wat destyds ’n indrukwekkende rol in die skool gespeel het.
“My begeerte was om ons skool se geskiedenis in boekvorm weer te gee; om erkenning te gee aan die ouers, opvoeders, oudleerders, geestelike instellings en die breër gemeenskap van die ou Wes-Kaap Provinsie.”
Hy sê hy wil ook deur middel van die boek wys wat met deursettingsvermoë, dissipline en respek – alles waardes wat die skool voorstaan – bereik kan word.
“ ’n Belangrike boodskap wat ’n mens uit die boek kan leer, is om jou passie te volg en dat sukses harde werk vereis. Beskou omstandighede as ’n positiewe motiveerder eerder as ’n uitdaging of probleem,” voeg Amos by.
Die skrywer sê die proses om die boek te voltooi, het hom bykans ’n jaar geneem. “Ek het amptelik in Mei 2021 begin. Inligting is die afgelope vyftig jaar versamel en ek het verskeie boeke nageslaan. Die boek is ’n koffietafel-weergawe, en nie alle gebeure, prestasies en individue kon gedek word nie. Ons het so veel as moontlik probeer inpas.”
Amos was ook instrumenteel in die stigting van Lückhoff High School Alumni NPC, ’n organisasie sonder winsoogmerk en die eerste in sy soort sedert 1935.
Die boekbekendstelling is Saterdag 25 Junie om 10:00 by die ou Lückhoff Skoolgebou op die hoek van Ryneveld en Banghoekweg in Stellenbosch.