HS Stellenbosch vier sy 50 en US sy 100

Hoërskool Stellenbosch vier vanjaar sy vyftigste verjaarsdag.


Hoërskool Stellenbosch vier vanjaar sy vyftigste verjaarsdag.

As deel van hierdie vieringe het die skool se leerders en personeel Maandag 26 Maart ’n staptog deur Stellenbosch se strate onderneem om sy wortels te besoek en aan die Universiteit Stellenbosch gelukwensinge met sy eeufees oor te dra.

Verskeie van die onderwysinstansies in Stellenbosch is deur hul wortels aan mekaar verbind. Uit die Ou-Kollege-gebou in Dorpstraat het die stigting van die Denneoord-onderwyskollege in die 1920’s tot verskeie skole en kolleges gelei wat vandag onafhanklik van mekaar en elkeen in eie reg ’n bydrae lewer.

So is die Stellenbosch Hoër Handelskool op 1 April 1968 in die Ou-Kollege-gebou gestig met ene mnr. Du Preez as die eerste skoolhoof. Die groei en onafhanklike status van die skool het ’n eie perseel geregverdig en die verskuiwing het in Maart 1973 plaasgevind toe die skool in die Ou-Lückhoff-skool se gebou in Banghoekweg ingetrek het.

Hierdie perseel is deur die Kaapse onderwysdepartement by die Metodistekerk gekoop, nadat die Lückhoff-skool (saam met die bruin gemeenskap) in 1969 uit “Die Vlakte” verskuif is as gevolg van die wetgewing van die destydse apartheidsbeleid.

Die Hoërskool Stellenbsoch se leerders is op die staptog by die Ou Lückhoff-skool deur Tienie Hendriksz, wat destyds as onderwyser in dié gebou klas gegee het, toegespreek.

Hulde is gebring aan die gebeure van die verlede met ’n oorhandiging aan die hoofleiers van Hoërskool Lückhoff, wat eregaste by die geleentheid was.

Die behoefte aan ’n volwaardige akademiese skool vir seuns en meisies is reeds sedert die sestigerjare aan die onderwysdepartement oorgedra. Die ontstaan van Hoërskool Stellenbosch is egter voorafgegaan deur talle vergaderings en gesprekke wat nie noodwendig so rustig verloop het nie.

Nog ’n skool in ’n dorp waar gevestigde en tradisionele skole aan baie van die onderwys­behoeftes voldoen het, was ’n kontensieuse saak.

Die idee van ’n hoërskool, waar albei geslagte saam kon skoolgaan, is met ywer gedryf en die name van bekende inwoners van Stellenbosch kom voortdurend in notules voor.

In Julie 1977 is die skool se naam na Hoërskool Stellenbosch verander en ’n uitgebreide kurrikulum is ingestel.

Die huidige skoolterrein is ontwikkel op die hoek van Martinson- en Jannaschstraat, reg oor Jan Maraispark en net langs die Laerskool Stellenbosch.

Die huidige koshuis, Huis du Preez, was die eerste gebou op die perseel en is vernoem na die eerste hoof van die Handelskool.

Die eerste skoolhoof van Hoërskool Stellenbosch was Aubrey van den Berg wat die leisels vir 20 jaar gehou het.

Behalwe vir die beklemtoning en vestiging van ’n goeie onder­rig en -leerkultuur het hy ook ’n puik grondslag gelê vir musiek en koorsang waarvoor die skool bekend geword het.

Die nuwe skoolgebou is in 1982 betrek.

Dawie van Emmenis was die volgende skoolhoof, en is opgevolg deur Dries van Wyk.

Theo Pellissier is in Julie 2015 as die huidige skoolhoof ingehuldig.

Die steeds groter wordende aanvraag het daartoe gelei dat die koshuis by drie geleenthede uitgebrei is.

’n Oop vakkeuse is ingestel en die breë vakkeuse voldoen aan die vereistes van ’n wye en gebalanseerde opvoeding. Die skool het stelselmatig van ’n strenger reëlstelsel na ’n waardegedrewe werkswyse wegbeweeg. ’n Baie doeltreffende komiteestelsel vir leerderleiers is ingestel en die sukses daarvan en dinamika van die leerders het ’n fokuspunt van die skool geword.

As deel van die feesstaptog is die Universiteit Stellenbosch ook besoek, waar verjaarsdagwense uitgeruil is en die skool se kanon deur die visie-rektor, Arnoldus Schoonwinkel, afgevuur is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.