Elise Pouvreau, ’n graad 9-leerling van die Gimnasium Trudering in München, Duitsland, is tans vir drie maande ’n besoekende leerder aan die Hoërskool Stellenbosch, as deel van die Duits-Suid-Afrikaanse uitruilskema vir skoolleerlinge.
Sy gaan tuis by Retief en Marenka Krige van Uniepark. Hilda Krige, Retief en Marenka se dogter, gaan in April 2017 vir drie maande as uitruilstudent na München en sal by Elise en haar ouers tuisgaan.
Haar Suid-Afrikaanse ouers sê Elise het baie gou ingekakel by hul gesin van vyf, en hulle voel of hulle al lankal familie is.
Elise is een van ’n tweeling, maar haar suster Manon, het in Duitsland agtergebly. Sy het nog ’n tweelingbroer en -suster, en ’n ouer broer wat in Meksiko vir ’n jaar lank ’n uitruilstudent is.
Elise sê vir haar is die interessantste daarvan om skool te gaan in Stellenbosch – afgesien daarvan om Afrikaans aan te leer – dat leerlinge almal ’n skooluniform dra, iets wat in Duitsland onbekend is.
Sy hou baie daarvan en spog graag in haar rooi Hoërskool Stellenbosch-skooljurk en bruin baadjie. Volgens haar bevorder dit samehorigheid onder die leerders en lojaliteit teenoor die skool.
Sy vind haar nuutgevonde skoolmaats in Stellenbosch besonder vriendelik en hulpvaardig.