Die Hoërskool Stellenbosch het Dinsdag 27 Augustus sy kunsteprestige- en -prysuitdelingsaand in die Endler-saal gehou.
Dit was ’n glansgeleentheid waar leerders wat in 2019 op kunstegebied presteer het, erkenning vir hul harde werk gegee is.
Pryse is toegeken vir verskeie vorms van kuns wat by die skool aangebied word, waaronder musiek, drama, literatuur, beeldende kuns, gasvryheidstudies en debat. Die aand is afgesluit met ’n massakooroptrede waar ongeveer 160 leerders op die verhoog was. Dit was ’n eer om soveel leerders van Hoërskool Stellenbosch op die verhoog te kon sien en te beleef hoe hulle hul individualiteit uitleef en kuns op ’n baie hoë vlak laat voortleef.