Kroondenne in die Jan Marais-natuurreservaat.Foto: Jan Giliomee


Op die groot grasperk van die Jan Marais-natuurreservaat staan ’n paar reusagtige kroondenne (Pinus pinea) wat maklik uitgeken kan word aan die sambreelvormige krone, wat die bome byna soos ’n groot paddastoel laat lyk.

Hierdie bome is sowat 100 jaar oud en hul voorouers het ’n besonder interessante geskiedenis, wat deur dr. Ockert Malan, ’n inwoner van Stellenbosch en ’n Hugenote-afstammeling, nagevors is. (Terloops, dr. Malan het ook die meeste van die bome in die reservaat uitgeken.)

Dit blyk kroondenne is sedert 1598 ter ere van koning Henri IV van Frankryk, deur wie die Protestante geloofsvryheid ingevolge die Edik van Nantes ontvang het, op hul eiendom aangeplant as simbool van Henri IV se koninkryk. Daarna het kolporteurs (smouse) wat in die 17de eeu Bybels en ander godsdienstige geskrifte onder die Protestante in die hoofsaaklik Katolieke Frankryk versprei het, hulle ook van die eetbare pitte van die kroonden (in Frans pin parasol, in Engels stone pine) voorsien. Van die pitte is geplant en ’n kroonden op ’n erf was dus ’n aanduiding van waar Protestante gewoon het en waar ander Protestante dus vriendelik ontvang sou word of selfs skuiling kon vind in tye van nood.

Met die herroeping in 1685 van die Edik van Nantes, wat godsdiensvryheid in Frankryk gewaarborg het, is die Protestante, bekend as Hugenote, wreed vervolg en sowat 400 000 moes vir hul lewe vlug. Van hierdie vlugtelinge het 175 gedurende 1686-’87 in die Kaap aangekom. Hulle het van die kroonden se sade saamgebring en hier geplant, waarskynlik as simbool van hul geloof, eerder as vir timmerhout, waarvoor dit nie juis geskik is nie. Aangesien kroondenne nie veel ouer as 200 jaar word nie, is die huidige bome hul afstammelinge.

Naas die kroonden kom groot trosdenne (Pinus pinaster) ook op die Jan Marais-reservaat se grasperk voor. Anders as die kroonden het dié soort ’n lastige indringerplant in die Kaapse fynbos geword. Waarom die verskil? Moontlik omdat die kroonden se sade deur eekhorings gevreet word.

You need to be Logged In to leave a comment.