Huis Horison, ’n residensiële en beskutte werksentrum in Stellenbosch wat spesialiseer in die versorging van volwassenes met intellektuele gestremdheid en lank reeds ’n huishoudelike naam in dié dorp is, vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar.
“Ons is dankbaar vir só baie wat ons deur die jare ontvang het en wat ons in staat gestel het om ’n volhoubare diens te lewer,” sê Elzabi van Wyk, Huis Horison se ontwikkelingsbestuurder.
“Voorbeelde hiervan is die Stellenbosch-gemeenskap se welwillendheid en morele ondersteuning, die groot aantal vrywilligers wat by ons sentrum betrokke is, en die finansiële bydraes wat ons van individue, ondernemings en trusts ontvang.”
Van Wyk haal aan uit ’n onuitputbare bron wanneer sy vertel van dade van groothartigheid en medemenslikheid teenoor Huis Horison en sy inwoners. ’n Onlangse voorbeeld hiervan is die bydrae van die wêreldbekende Stellenbosse skilder en sakeman Portchie, wat Huis Horison as een van net twee organisasies benoem het om finansieel baat te vind uit die toegangsgeld van sy omvangryke kunsuitstalling, Portchie – from Tweeling to Trafalgar Square, met sy 60ste verjaarsdag in November verlede jaar.
Op ’n vraag hoekom sulke besondere goedhartigheid, was Portchie se antwoord: “Daar is mense by Huis Horison wat ander mense se lewe mooier maak sonder dat hulle iets terugkry. Hulle doen dit omdat hulle wil, en uit liefde. Wat my bybly sedert ’n besoek aan die sentrum, is die inwoners se absolute opwinding, vreugde en tevredenheid wanneer hulle vertel hoe bly en gelukkig hulle is om daar te kan woon. Dit is vir my ’n voorreg om iets vir Huis Horison te kan doen.”
Huis Horison het tans 131 permanente inwoners, 30 mense van buite wat daagliks by die sentrum versorg word, en bykans 80 personeellede. Volgens Van Wyk word alle besluite en aktiwiteite op een primêre beginsel gebaseer: om die gehalte van versorging en menswaardigheid van diegene in die sentrum voortdurend te verhoog sodat die sentrum vir hulle ’n blywende tuiste sal wees waar hulle tot volkome menswees kan ontwikkel.
“Hierdie beginsel vind gestalte in ons leuse – Being, Belonging, Becoming – wat die fisieke, emosionele, geestelike, en spirituele behoeftes van ons inwoners omvang, die omgewing waarin hulle woon en werk, asook die mense rondom hulle uitbeeld en die betekenisvolle werks-, ontspannings-, en groeigeleenthede van die inwoners uitlig,” sê sy.
“Ons volg ’n holistiese benadering in die diens wat ons lewer. Deel daarvan is ons eiesoortige konsep van ’n Huis Horison-village wat so gestruktureer is dat ons inwoners blootgestel word aan, en ingeskakel is by, ’n struktuur wat vergelyk kan word met samelewingstrukture elders, maar aangepas is om hul intellektuele vermoëns in ag te neem. Hierdeur streef ons om die beginsel van leef goed, voel goed en lyk goed binne die sentrum te vestig en ’n veilige emosionele plek vir elke inwoner te skep waarin trots en selfwaarde bevorder word.”
Huis Horison, geregistreer as ’n maatskappy sonder winsoogmerk, word bedryf aan die hand van vyf grondbeginsels – integriteit, bevoegdheid, aanspreeklikheid, billikheid en deursigtigheid.
- Om diens as vrywilliger te lewer, ’n belastingvoordelige skenking te gee of algemene navrae te rig, kontak Van Wyk per e-pos by bemarking@huishorison.org.za of telefonies by 021 887 5080.
- Nog inligting is by www.huishorison.org.za.