Ses inwoners van Huis Horison wat al 20 jaar en langer in die tehuis vir intellektuele gestremdes woon, het verlede Vrydag (2 Junie) tydens ’n intieme boomplantseremonie elk ’n boom saam met hul families geplant.
Huis Horison het in 1974 sy deure oopgemaak vir die versorging van intellektueel gestremde volwassenes. Daar is huidiglik 122 inwoners waarvan 39 mense al meer as twintig jaar, 7 al meer as 30 jaar en 10 mense al meer as 40 jaar hier woon.
“Die bome is inheems, en is opgedra aan ’n spesifieke inwoner. Dit was ’n voorreg om hierdie geleentheid saam met families te beleef,” sê Elzabi van Wyk, bestuurder van ontwikkeling by Huis Horison.
“Hoekom ’n boom? Deur die aanplant van bome skep ons ’n park van herinnering, waar daar in die toekoms ’n groen en boomryke area sal wees vir inwoners, personeel en besoekers om rustig in die tuine die buitelug te geniet. Daarby dra dit by tot ’n groener omgewing en bevorder die stryd teen klimaatverandering,” sê sy.
“Daar is iets rondom so ’n pragtige en praktiese seremonie wat die hart raak en daarby heling bring. Ook is bevind dat bome na mekaar omsien, soos families.
“Mag hierdie lewendige nalatenskap vir komende geslagte ons herinner om ons families, binne en buite Huis Horison, te vier.”
Die eerste week van September is Boomplantweek en Huis Horison wil graag nog bome plant vir sy inwoners, veral diegene wat nie meer families het of kan bekostig om ’n boom te koop nie.
. Indien jy betrokke wil raak en ’n boom wil skenk, kontak ekokoordineerder@huishorison.org.za.