Hessie Mostert (links), die langs inwonende inwoner by Huis Horison, saam met Magdie van Heerden, die sentrum se uitvoerende direkteur, by die spesiale 50ste verjaarsdagkoek.


Maandag 1 Julie was nie net enige by dag by Huis Horison nie – inwoners en personeel het op dié dag met trots ’n glasie op die sentrum se 50ste verjaarsdag geklink.

“Ek kan nog onthou die dag toe dit oopgemaak het – die weer en dag was net so,” het Hessie Mostert, die langs inwonende inwoner by Huis Horison, gesê.

Sy was een van die eerste 14 mense wat op 1 Julie 1974 by dié sentrum, ’n residensiële en beskutte werksentrum wat spesialiseer in die versorging van volwassenes met intellektuele gestremdheid, ingetrek het.

Al die inwoners en personeel wat die 50ste verjaardagviering bygewoon het, het ’n stukkie sjokoladekoek geniet. Die spesiale koek is deur The Blue Crane & Butterfly geskenk.

“By Huis Horison streef ons altyd daarna om op alle vlakke te verbeter, ondanks groot uitdagings – dit is juis wat ons laat groei en volhoubaar maak,” sê Elzabi van Wyk, die bestuurder van ontwikkeling.

“Ons versorg al vir 50 jaar ’n kwesbare gemeenskap en bied hulle ’n blywende tuiste van being, belonging and becoming. Ons sien entoesiasties uit na die volgende 50 jaar!”

Die sentrum versorg tans 133 inwoners en 30 dagwerkers.

“Ons bedank graag al ons ondersteuners, ’n spesiale gemeenskap van individue, trusts en ondernemings, wat Huis Horison al hierdie jare op hul hande dra en aanhou help om ’n verskil aan mense wat met ’n intellektuele gestremdheid leef, te maak.”

Van Wyk het ’n spesiale woord van dank aan The Blue Crane & Butterfly gehad vir die “verruklike” sjokoladekoek om die spesiale dag te vier.

You need to be Logged In to leave a comment.