Huise bly glo lek ná herstelwerk

Inwoners van die Steps in Cloetesville kla oor die toestand van hul huise; dit nadat ’n kontrakteur wat deur die munisipaliteit aangestel is hier herstelwerk gedoen het.


Inwoners van die Steps in Cloetesville kla oor die toestand van hul huise; dit nadat ’n kontrakteur wat deur die munisipaliteit aangestel is hier herstelwerk gedoen het.

Die inwoners sê die huise is ná die herstelwerk erger daaraan toe as wat dit was voordat herstelwerk gedoen is, met dakke wat lek en water wat by die vensterbanke af stroom. Talle huise het ook watermerke aan die mure.

“Weens die strawwe weerstoestande en swaar reënbuie wat die afgelope paar weke ervaar is, het verdere vogtigheid aan die eiendomme (gebou voor 1994) aan die lig gekom. Die kontrakteur is tans op die perseel besig met herstelwerk. Die munisipaliteit het ’n vergadering vir Woensdag (28 Junie) geskeduleer om met die geaffekteerde inwoners in gesprek te tree,” sê Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder.

“Ek woon in Northendstraat 47, ek woon nou al 16 jaar in die huis en ek het nooit die probleem met nat mure of ’n dak wat lek gehad nie. Vandat die Tops-kontrakteur hier begin werk het en nadat hulle klaar was met ons huise, het die probleem begin met die dak wat lek, nat mure en water wat by vensterbanke af stroom. Ons moet handdoeke by die vensterbanke sit,” sê Shereleen Layman.

Layman is ’n asmalyer en sê haar gesondheid gaan agteruit as gevolg van die omstandighede waarin hulle woon.

“Hoe kan ’n mens in so ’n nat plek bly? Dis koud en nat en ons in die huis is nie gesond nie. Die Tops-kontrakteur het klomp geld gekry om ons huise ordentlik reg te maak, maar nou moet ons met die gelag sit.

“Ek kla al die afgelope jaar oor my dak wat so lek. Daar is al ’n groot mufkol in die plafon. Hulle kom plak net elke keer ’n stuk lap op die dak en dan is dit vir hulle reg. Sodra dit weer baie reën, dan lek dit net weer. Ek wil net hê hulle moet regte werk kom doen en hul gemors kom regmaak.”

Grobbelaar sê munisipale amptenare het saam met die onderburgemeester, direkteur van infrastruktuurdienste, wyksraadslid en sleutelbelanghebbendes op Vrydag 23 Junie huisinspeksies gedoen.

“By inspeksie is vasgestel dat huise met klam mure en vensters te wyte is aan humiditeitsopbou en kondensasie binne die huise. Dit is as gevolg van ’n gebrek aan ventilasie en die voort­durende nat weerstoestande. Daar is gevind dat baie van die vensters heeltemal gesluit is, deure gesluit en ventilasiestene deur sommige huiseienaars verseël is. Die vog binne die huise het dus nêrens om heen te gaan nie.”

Volgens Grobbelaar vorm die nuutgeverfde eenhede ’n verfversperring wat verhoed dat die oppervlakwater binnedring en die betonstene versadig.

“Water sit nou eerder op die verf- of vensteroppervlak as gevolg van ’n gebrek aan ventilasie waar dit na die vloer of vensterbanke drup. Verskeie geute en afvoerpype is met plantegroei gevul of geblokkeer, wat die vloei van reënwater verhoed het, wat uiteindelik teen die mure van die huise af loop. Huiseienaars word aangemoedig om hul huise in stand te hou, terwyl die munisipaliteit omsien na herstelwerk.”

“ ’n Inspeksie moet gedoen word, want ons huise is nou swakker af as wat dit was. Daar is al van verlede jaar klagtes ingedien, maar die werk gaan net aan en ons is ontstoke,” sê nog ’n inwoner, Lamees de Klerk.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.