Van die snaaksste komediante in die land gaan vir die Toyota US Woordfees (van 10 tot 16 Oktober) in Stellenbosch wees.

Schalk Bezuidenhout, Bennie Fourie, Alan Committie, Melt Sieberhagen, Alfred Adriaan, Angel Campey, Nik Rabinowitz en Shimmy Isaacs is almal vanjaar deel van die Savanna Stand-up-komediereeks, wat altyd een van die fees se topverkopers is. Elkeen van dié grapmakers het ’n unieke sin vir humor en ’n besonderse vermoë om die gehoor te lees. Hulle maak akkurate waarnemings oor die wêreld en wys ook die silwer randjie uit – met vlymskerp grappies en stories.

Schalk Bezuidenhout is ook te sien in Schalk sing sleg! – ’n vertoning wat komedie met oorspronklike liedjies en lekker vrot sang kombineer. Schalk se video’s op sosiale media het in die grendeltyd duisende Suid-Afrikaners daagliks ’n lepel lagmedisyne ingejaag en by die fees wil hy mense, in lewende lywe, van beurtkrag laat vergeet. Die talentvolle Wesley van der Westhuizen begelei hom op ’n verskeidenheid instrumente.

Nog ’n sosialemediasensasie, Wynand Kotzé, beter bekend as WynVirDiePyn op TikTok, se Tollie Parton maak ’n flambojante draai by die fees. In hierdie vertoning is die grappies somtyds onsmaaklik, maar altyd eerlik; hartseer en dikwels afskuwelik snaaks. Tollie trek die gehoor by die vertoning in en vra dat mense ’n myl ver staan as sy haar skote skiet.

Agteraf, met Jurgen McEwan, Waldemar Schultz en Francois Toerien, speel agter die verhoog van ’n kindertoneelstuk af waar drie akteurs spook met die produksie én hul eie lewenskrisisse en tekortkomings. By die KKNK vroeër vanjaar het dié komedie volwasse mans soos kinders laat lag.

Meer inligting oor al hierdie aanbiedings is op die Woordfees se webwerf beskikbaar en kaartjies is by Webtickets te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.