Inwoners van Longlands en Vlottenburg se informele nedersettings is ongelukkig oor die Stellenbosch-munisipaliteit glo geweier het om hulle te help nadat hul huise verlede week tydens die swaar reën oorstroom is. Maar, sê die munisipaliteit, hierdie bewerings is onwaar.

Die sowat 80 huisgesinne het Dinsdagoggend (14 Junie) met water wat regdeur hulle huise vloei wakker geword. “Ons het omstreeks 05:00 wakker geskrik. Die water was al kniehoogte en het deur ons huis gevloei. Ons het die munisipaliteit se nooddienste vir hulp gebel,” het Jessica Swarts van Longlands gesê.

Maar, sê die inwoners, tot hul verbasing het die munisipaliteit se rampbestuur gesê hulle (die rampbestuur) kan nie die inwoners help nie, want die inwoners is op private grond. “Ons het gevra of hulle nie net dan vir ons seile kan gee nie. Hulle het steeds gesê hulle kan ons nie help nie, want ons is op privaat grond.

“Ons het nie vir geld of kos gevra nie, net vir seile en dit wou hulle nie eens vir ons gee nie.”

Volgens die inwoners was dit nog nooit voorheen ’n probleem nie en is dit die eerste keer dat die munisipaliteit hulle nie wil help nie.

“Ons verstaan nie hoekom hulle ons nie nou kan help nie. Voorheen was dit nie ’n probleem nie. Toe dit ’n paar jaar gelede ook oorstroom het, het hulle ons met seile gehelp, wat is nou anders as destyds? Of was dit toe net vir ons stemme. Toe hulle ons stemme wou hê, was ons goed genoeg, nou wil hulle ons nie help nie,” het Elenora Stigland, van Vlottenburg, gesê.

Swarts, wie se huis onlangs gebrand het, sê dit het by haar dak ook ingereën. “Ons kinders kon nie skool toe gaan nie, want al ons besittings en klere het nat gereën. Ons moes tot die naweek toe die water wegvee. Die seile sou ten minste help om skuiling te bied teen die ergste reën. Dit is ’n gesondheid- en veiligheidsrisiko vir ons hier, hier is mense wat TB-lyers is en mense wat sieklik is.”

Die munisipaliteit het bevestig ’n oproep om hulp is ontvang ná die stormreën verlede week. “Die munisipaliteit se rampbestuurspanne en brandweerpersoneel het gereageer en was op die perseel om hulp te verleen en gesinne by te staan,”sê Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder.

Hy sê egter bewerings dat die munisipaliteit “geweier” het om aandag te gee aan die versoek, is onwaar. “Die munisipaliteit sal en mag nie weier om inwoners te help nie. Ons is ook bewus dat die polisie baie oproepe van die gebied ontvang het en dalk was dit die polisie wat gesê het hulle kan nie help nie.”

Hy sê die munisipaliteit se rampbestuurspanne tesame met privaat skenkers het ook besoek aan die omgewing op 15 Junie afgelê om bystand te lewer deur kos en warm sop aan inwoners uit te deel.

“Die burgemeester, onderburgemeester, wyksraadslid en munisipale bestuurder was juis op 21 Junie by die Longlands/Vlottenburg-projek om inwoners te besoek en self te sien hoe werk aan die nuwe huise en op die bouperseel vorder.”

V Inwoners word versoek om die munisipaliteit se noodkontrolekamer per telefoon by 021 808 8999 of per WhatsApp by 079 622 4722, vir enige munisipale aangeleenthede, te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.