Hulp gevra in roofsaak

Die Stellenbosch-polisie doen ’n beroep op gemeenskapslede om na vore te kom met inligting wat moontlik tot ’n deurbraak in ’n saak van ontvoering en roof kan lei.


Die Stellenbosch-polisie doen ’n beroep op gemeenskapslede om na vore te kom met inligting wat moontlik tot ’n deurbraak in ’n saak van ontvoering en roof kan lei.

Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Natalie Martin het die voorval Maandag (14 Augustus) om 00:10 plaasgevind toe ’n swart Bantam-bakkie glo by twee voetgangers in Merrimanstraat stilgehou het.

Die vriende was aanvanklik onder die indruk dat die insittendes van die voertuig hulle ’n saamrygeleent­heid wou bied, maar is ontnugter toe twee onbekende mans uit die bakkie geklim het.

Die verdagtes het die twee gegryp en hulle gedwing om agter op die bakkie te klim, waar nog twee mans reeds ingelaai was.

“Die verdagtes het in die rigting van Idasvallei gery en skielik padlangs gestop. Een van die verdagtes, ’n man met rastalokke, het voor die voetganger-vriende verskyn en hulle met ’n mes gedreig en van hul selfone beroof.

“Die verdagtes het in die voertuig weggejaag en die slagoffers is ongedeerd en verlate langs die pad gelos,” het Martin gesê.

Die verdagtes is onbekend en is steeds soek ná die voorval. Enigiemand met inligting word versoek om die Stellenbosch-polisiekantoor by 021 809 5012/15 te skakel.

Misdaad-suksesse
  • Die Stellenbosch-polisie pronk met heelwat suksesse insluitend verskeie inhegtenisnemings tussen Maandag 7 en Maandag 14 Augustus:
    Besit van gevaarlike wapen – 11.
    Gevaarlike wapens (messe ensovoorts) – 9.
    Onwettige handel in drank – 2.
    Onwettige besit van vuurwapen – 1.
    Besit van dwelms – 10
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.