Terwyl hulle nog die skok van hul geliefde se dood verwerk het, het die familie van Fadrian Michaels ’n skokkende video van sy lyk ontvang.

Michaels (35) van Idasvallei is Dinsdag 5 November dood gevind waar hy van ’n boom gehang het. Die skokkende vonds is deur verskeie plaaslikes, insluitend kinders, met selfone afgeneem en verskeie video’s van Michaels is op sosiale media versprei.

Benewens Facebook, waar die video’s glo op groepe geplaas is, is die beeldmateriaal via WhatsApp aangestuur.

Dit was juis een van dié video’s wat ook aan Michaels se familie gestuur is. “Mense stuur sedert sy dood video’s rond en dit is selfs aan ons, die familie, gestuur. Dit is natuurlik baie ontstellend aangesien ons reeds swaarkry in hierdie moeilike tyd,” het ’n familielid verlede week aan Eikestadnuus verduidelik.

“Ons pleidooi is dat die persoon wat die video op Facebook geplaas het en dit op ander sosialemediagroepe gedeel het dit asseblief verwyder en ons familie en die polisie-ondersoek respekteer.”

By navraag het die Cloetesville-polisie bevestig ’n saak van selfdood is aanhangig gemaak. Die polisie wag steeds vir die uitslag van die nadoodse ondersoek.

Michaels se familie het vandeesweek gesê hulle probeer hul geliefde se dood verwerk. “Geestesgesondheid kan so uitdagend wees, maar indien ons net geweet het . . .”

Intussen is Michaels gister (Woensdag 13 November) uit die Nuwe Apostoliese kerk in Idasvallei ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.