Die Wêreld-tennisstigting (TWF) het op 9 Februarie ’n nuut-opgeknapte tennis-ontwikkelingsentrum in Idasvallei bekendgestel.
Volgens Chryston Julius, die programbestuurder by die TWF, was die bekendstelling ’n groot sukses en is hulle opgewonde om met die hulp van die Idasvallei-gemeenskap ’n sukses van die tennisprogram en sentrum te maak.
“Idasvallei het ’n ryk tennisgeskiedenis en ons glo ons sal toekomstige kampioene oplewer,” het Julius gesê.
Die TWF het deur ’n vennootskap met die Stellenbosch-munisipaliteit en die Idasvallei-sportraad ’n huurkontrak verwerf om die Idasvallei-tennisfasiliteit te bestuur.
Die opgeknapte struktuur sluit ses tennisbane en ’n klubhuis in – alles geleë by die groter Idasvallei-sportterrein. Die sportterrein sluit ook twee sokkervelde, ’n hokkieveld, ’n krieketveld en ses netbalbane in.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het, volgens Jeremy Fasser, die onderburgemeester, in die huidige boekjaar net oor R500 000 aan die opknapping van vier van die ses tennisbane bestee.
“Hierdie fasiliteit is ’n perfekte voorbeeld van hoe die regering, die private sektor, sportrade en plaaslike gemeenskappe saam kan staan en ooreenkomste kan aangaan wat ons gemeenskappe bevoordeel,” het Fasser gesê.
Hy het bygevoeg die munisipaliteit is ten gunste daarvan om soortgelyke geleenthede deur die hele munisipale gebied te ondersoek.
Volgens Federico Coppini, die stigter en uitvoerende hoof van die TWF, is die TWF se Hello Tennis- en Team Tennis-programme gratis vir skole en individuele spelers wat nie die hulpbronne het wat nodig is vir professionele afrigting en kompetisie-ondersteuning nie.
Rhodes Benting, die voorsitter van die Idasvallei-sportraad, het bevestig die TWF het skole in die omgewing geïdentifiseer aan wie tennisopleiding gratis aangebied sal word.
Die eerste skole wat in 2019 by die TWF-programme aangesluit het, was Weber Gedenk Primêr, gevolg deur Ikhaya en Kayamandi Primêr.
“Twee ander Idasvallei-skole het ná die Covid-19-inperking aangesluit toe dit weer moontlik was om te speel. Ons beoog om aan die einde van 2022 tien skole op die program te hê,” het Coppini gesê.
Die TWF se doelwit is om vir al die gemeenskap se kinders gelyke geleentheid te bied om tennis te speel en in die sport uit te blink.
“Dink net hoe wonderlik dit sou wees as Stellenbosch ’n Wimbledon-wenner kon oplewer,” het Coppini gesê.