Die skool het die organisasies besoek as ’n blyk van waardering vir hul onbaatsugtige diens en tyd aan die Stellenbosch se Gemeenskap gelewer.Foto:


Idasvallei Primêr (IVP) het Maandag 18 Julie sy 81ste verjaardag saam met oudpresident Nelson Mandela gevier.

Met die oog op hierdie belangrike viering het die skool dit goed gedink om die beginsel van Ubuntu (menslikheid teenoor ander) uit te leef en in die gemeenskap terug te ploeg.

Onderwysers, assistente, studente van die Universiteit Stellenbosch en gr.7-leerders het Vrydag 29 Julie namens die skool die strate ingevaar en na verskeie organisasies in en om Stellenbosch uitgereik.

“Ons het die volgende organisasies besoek: Huis Noah, Huis Ebenhaeser, die Stellenbosch-hospitaal (kindersaal en kraamsaal), Stellenbosch Animal Welfare Society in Devonvallei, die Stellenbosch-nagskuiling, Jeuguitreik, Stellsorg, Die Safe House, die Cloetesville-polisie en die brandweer,” sê Jo-Anne Baartman van IVP.

“Ons kon hierdie organisasies op hierdie dag bederf en seën met vars produkte, bederfbare- en nie-bederfbare produkte, koek, kolwyntjies, klere, toiletware, skoene, honde- en katkos en vele meer. Dit is aan hierdie organisasies oorhandig as ’n blyk van waardering vir hul onbaatsugtige diens en tyd wat hulle aan die Stellenbosse gemeenskap lewer.

“Baie dankie aan almal wat ingekoop het om van hierdie poging ’n sukses te maak. Ons bid die Liewe Heer se seën op ons skenkers en ook die ontvangers toe.”

You need to be Logged In to leave a comment.