Hoewel Amapretty maandeliks meer as 40 000 luisteraars op Spotify lok, is daar een doel waarna die groep steeds mik – om by die jaarlikse Stellenbosch-liggiefees op te tree.

Die fees, wat deur die Stellenbosch-munisipaliteit aangebied word, is ‘n droom waarna die viermanskap van Idasvallei steeds mik.

Amapretty is een van die gewildste Afrikaanse ghom-groepe in die land. Tog meen Gio Petersen (19), Brooklyn Julius (19), Raheeq Iyaam “Jaydee” Francois (18) en Cheray “Mr Saggie” Jacobs (34) om vir hul tuisdorp op te tree, sal ‘n hoogtepunt wees.

“Jy hoef net in die buurt rond te stap en jy sal hoor hoe baie mense na hul musiek luister en steeds weet Stellenbossers nie dat Amapretty net hier in Idasvallei woon nie,” sê Elandre Lindoor van Volgende Step Entertainment.

Drie van die vier lede van Amapretty. Brooklyn Julius (19), Raheeq Iyaam “Jaydee” Francois (18) en Gio Petersen (19) sit in die Julius-gesin se voorhuis wat ook as hul ateljee dien. Cheray “Mr Saggie” Jacobs (34) is die vierde lid van die groep. Foto: Yaël Malgas

Gio, Jaydee en Brooklyn is van kindsbeen af bure en wat eers begin het as geraas maak op potte, panne en emmers het later in ‘n volwaardige musiekgroep verander.

“Ons het destyds as sewejariges emmers gevat en in die pad geloop en musiek maak. Die laaities in die pad het saam met ons gestap en dit is waar dit begin het.

“In Tindallstraat was daar altyd huise met Kersliggies, dan het ek, Brooklyn en Jaydee altyd ons potte en panne tot daar gevat en die mense entertain. Ons het R80 gemaak en dit was baie geld vir ons! Ons het natuurlik lekkers gekoop,” vertel Gio skertsend.

Later het Jaydee en Brooklyn by die VGK-brigade aangesluit en Gio by die Ou Apostoliese kerk s’n. Jaydee bieg die deelname in die brigade was net ‘n frustrasie, omdat hy die simbale moes speel en nie kon speel soos hy wou nie.

OORNAG GEWILD

Brooklyn was die eerste een van die groep wat begin musiek vervaardig het en saam met sy bure hul eerste lied “Fully Festive” in 2022 opgeneem het.

“Aan die begin was daar baie mense wat neergesien het op ons en die musiek. Hulle het nie geglo ons sal dit maak nie, maar ons het aangehou,” sê hy. Die snit was nie baie gewild nie, maar die daaropvolgende “Bumba” het luisteraars op TikTok laat regop sit.

“Dit was oornag,” verduidelik Gio oor die snit se gewildheid.

Mr Saggies was die laaste lid om by Amapretty aan te sluit en het reeds volgelinge vir sy eie musiek gehad.

“Ek was nie van plan om by Amapretty aan te sluit nie. Brooklyn het my eendag gevra of hy vir my ‘n beat kan stuur; van daar het dinge begin rol. Ek en my ou span het op die beats gewerk, maar ek was later alleen in die ateljee saam met Amapretty. Ek het net geluister, raad gegee en toe besef hier is iets groter as net ek,” sê Cheray.

Hy het van die begin af geglo Amapretty het wat dit verg om ‘n sukses te wees, maar hy het geweet hoe moeilik dit was om bekendheid te verwerf en wou nie hê hulle moes dié struikelblokke ondervind nie.

“Ek kom uit Cloetesville – tussen bendegeweld en vreemde dinge. Ek kon vandag ‘n gangster gewees het, of in die tronk, of dood, maar ek het aangehou met my ding.

“Vandag, as ek by ‘n plek instap of op die verhoog staan, skree mense my naam. Dieselfde mense wat nie in my geglo het nie, skree nou die hardste. En dis hoekom ons mense mekaar moet ondersteun. Ons Kaapse mense is vinnig om te spog met hul eie op radio en plaaslike nuus, maar ons moet dit méér doen – nie net as iemand se naam trend nie, maar van dag een af. Want ondersteuning bou ‘n nalatenskap en dit maak ‘n movement sterker.”

Verby is die dae dat musiekmakers vir blootstelling moes wag – Amapretty het ‘n sosiale- media-sensasie geword en TikTok is steeds die platform waar veral jongmense hulle die eerste keer hoor. Amapretty sê dit is veral die musiek-toplyste wat hulle motiveer om aan te hou met die Afrikaans-ghom.

HOOR MUSIEK

Die meeste van die groep se musiek begin by Brooklyn, wat gereeld ‘n beat in sy kop sal kry.

Janine Julius, oftewel Mamapretty, soos sy ook genoem word, vertel soms sit haar seun in die verte en staar, maar dan weet sy hy hoor musiek.

“Wanneer hy die musiek hoor, moet ek rondsluip en saggies by die kamer ingaan om hom nie te pla nie,” vertel sy.

Brooklyn sê daar is tye wanneer hy in die nag opspring om die musiek vas te vang aangesien hy altyd bang is hy verloor die beat.

Gio skryf gewoonlik die lirieke en dan werk die groep saam totdat hulle by die eindproduk uitkom.

Die Julius-gesin se voorkamer is deesdae die groep se ateljee. Volgens Janine is die manne streng oor hul ateljeetyd en dit gebeur gereeld dat die huisbewoners aangesê word om vir eers uit te gaan.

Tog sê die groep hulle geniet niks soos om op te tree nie. “Dis die beste,” meen Brooklyn. “Dis ongelooflik om te sien hoe laaities, grootmense en anties saamsing. Jy sit jou mikrofoon af en hulle kan jou hele song sing.”

Amapretty bly hoop ‘n optrede by die Liggiefees is in die toekoms.

Kliek hier om Amapretty se musiek op Spotify te luister.

You need to be Logged In to leave a comment.