’n Groep inwoners in Idasvallei is ongelukkig oor die nuut voorgestelde Thuthuzela-sorgsentrum (TCC) wat sonder hul wete in die woonbuurt opgerig word. Hulle beweer Mediclinic Suid-Afrika en die sentrum se bestuur het nie die gemeenskap in die saak geken nie.
“Geen openbare deelname of vergaderings is met die gemeenskap oor die aangeleentheid gehou nie. Hier is net met bouwerk vir die TCC by Botmanshoogte, op die hoek van Protea- en Ou Helshoogte-pad, begin – sonder om die gemeenskap in die saak te ken,” het Stellenbosch Community Care (SCC), ’n organisasie sonder winsbejag, by monde van Magmoed Kara tydens ’n onlangse betoging teen die oprigting van die geslagsgebaseerde sorgsentrum gesê.
Mediclinic SA het by navraag gesê hy dien slegs ’n ondersteunende rol vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die oprig van die TCC.
“Neem asseblief kennis dat Mediclinic die doelwitte van die Thuthuzela-sorgsentrums (TCC) ten volle ondersteun,” het Mediclinic gesê.
Volgens Kara het die uitvoerende komitee van SCC saam met verskeie plaaslike opvoedingsinstansies, gemeenskapsorganisasies en godsdiensleiers van dié gemeenskap besluit om teen die opening van ’n sentrum te staan weens ’n algemene gebrek aan konsultasie met die gemeenskap.
Hulle beweer ook dat daar reeds met konstruksie van die gebou begin is en dat ’n plaaslike konstruksiemaatskappy nie vir die projek gebruik is nie.
Die organisasie beweer daarbenewens ook dat niemand uit die gemeenskap by die sorgsentrum sal baatvind nie.
“Met navraag oor of verpleegsters en ander gekwalifiseerde medici van Idasvallei werk sal kry deur die sentrum, is nee gesê. Ons mense sal ook nie daar behandel kan word nie.
“Ons wil dit duidelik maak dat ons nie teen die TCC is nie – in teendeel, ons verwelkom dit. Waarteen ons gekant is, is dat die gemeenskap nie geken word in die saak nie.”
Volgens adv. Bonnie Curry-Gamwo, spesiale direkteur van openbare vervolging, ondersteun die plaaslike wyksraadslid van Idasvallei en die Ubuntu- landelike organisasies die Stellenbosch TCC ten volle omdat hulle die dringende behoefte aan dienslewering vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld in die gebied verstaan.
Sy het in ’n verklaring gesê die eenheid vir seksuele misdrywe en gemeenskapsake (SOCA) van die NVG is verantwoordelik vir die geslagsgeweld-mandaat van die NVG en om die optimale bestuur van sulke aangeleenthede deur beste praktyke, beleide en opleiding te verseker.
“As deel van sy mandaat om beste praktyke oor geslagsgebaseerde geweld te ontwikkel, het SOCA die Thuthuzela Care Centre- (TCC) model in 2000 bekendgestel. TCC is daarop gemik om sekondêre viktimisasie te verminder, die skuldigbevindingskoers te verhoog deur ’n saak te bou wat gereed is vir suksesvolle vervolging en die vermindering van die siklustye van hierdie sake van verslagdoening tot finalisering,” sê Curry-Gamwo.
“Die sukses van die TCC-model berus op die feit dat dit slagoffergesentreerd is en op die allerbelangrike multisektorale aard van die dienste wat deur die NVG, DSD, SAPD en DOH gelewer word. Die terreine word geïdentifiseer op grond van verskeie kriteria, insluitend die aantal seksuele-misdryf-sake wat by die plaaslike SAPD aangemeld is, die aantal seksuele-misdryf-sake wat by die plaaslike hof hanteer is, beskikbaarheid van ruimte by die plaaslike hospitaal, teenwoordigheid van SAPD FCS, beskikbaarheid van nie-regeringsdienste vir slagoffers en belanghebbendes se inkoop en nie-beskikbaarheid van dienste aan landelike gemeenskappe onder diens.
“Tans is 63 TCC’s nasionaal in landelike, stedelike en buitestedelike gemeenskappe geleë. Stellenbosch TCC word geteiken om nommer 64 in die land en die negende in die provinsie te wees. Dit is nog te min, maar die regering kan nie die voetspoor op sy eie uitbrei nie,” voeg Curry-Gamwo by.
Die Universiteit Stellenbosch (US), aan wie die eiendom behoort, sê hy het verlede week met al die rolspelers ontmoet, insluitend die NVG (sameroeper), die SAPD, raadslede van die munisipaliteit en gemeenskapsverteenwoordigers.
“Die US, saam met die bestuur van die GBV-Hub, sal met die gemeenskapsleiers ontmoet as deel van konsultasie oor die pad vorentoe. Ons beskou hierdie gesprek as dringend,” sê dr. Leslie van Rooi, senior direkteur vir transformasie en sosiale impak by die US.