Uan Jumat (18) is op pad na Spanje om sy sokkervernuf ten toon te stel – dít danksy die hulp van die gemeenskap om die R50 000 in te samel wat hy nodig gehad het om vir die toer na die buiteland te betaal.
Sokkertalent is in sy gene aangesien Uan se oupa, Bennie, ook sy sokkerafrigter is. Dié linkervleuel van Idasvallei is genooi om lid van die BT Football Recruitment Agency-span te wees wat deel van die vertoontoer sal uitmaak. Die 18-jarige sou aanvanklik in September gaan, maar nou vlieg hy reeds op 1 Julie om te gaan deelneem.
Stiefouma Chriszelda Williams sê sy kan nie ’n tyd onthou dat Uan sonder ’n sokkerbal was nie.
Dié Hoërskool Lückhoff-leerder speel vir die Oriental Gunners-sokkerklub en sê hy is baie opgewonde oor die toer.
Hy bedank Williams se werkgewer, Sinapi Biomedical, wat die grootste deel van die toergeld geborg het. Hy spreek ook sy dank uit aan sy oupa en Williams wat gepoog het om die geld in te samel om sy droom te laat waar word.
Williams sê daar word nou gespook om sakgeld vir Uan in te samel en kitskos-verkope sal binnekort begin om hierdie geld te in. “Die ondersteuning wat ons uit die gemeenskap ontvang het, was net oorweldigend. Mense wat ons nie eens ken nie, het hand in die sak gesteek om ’n bydrae, al was dit net ’n paar rand, te gee. Ons is dankbaar vir dit alles,” vertel sy.
Die toer vind van 1 tot 16 Julie plaas en bestaan uit wedstryde wat as vertoning vir hul sokkertalente sal dien. Van hier is dit die hoop vir spelers soos Uan om deur hul gunsteling- internasionale spanne raakgesien te word met die hoop op ’n kontrak.
“Ons glo die Here het vir hom hierdie gawe gegee om iets mee te doen. Hy sou Uan nie só ver bring en dan kom daar niks van nie. Ek is seker wanneer hy ná die toer terugkom, sal dit net wees om sy sakke te pak om terug Spanje toe te gaan,” sê sy stiefouma skertsend.