Die Idasvalleier Etienne Basson, wat onlangs as ’n World Trails-jeugambassadeur (2022-’24) aangewys is, is op pad na Griekeland vir die Wêreld-staproetekonferensie, wat einde September plaasvind.
Hy vertrek volgende Donderdag (22 September) en keer Maandag 3 Oktober terug.
Basson is gekies as een van 12 Wêreld-staproete-ambassadeurs en gaan ook deel word van die Wêreld-staproete-netwerk–taakspan, waar hy betrokke gaan wees by staproete-projekte oor die wêreld heen.
“My tyd in Griekeland bestaan uit drie dele. Die Wêreld-staproete-spitsberaad is van Vrydag 23 tot Saterdag 24 September, waar die 12 World Trail Ambassadors bymekaarkom vir netwerk-werk en om ons onderskeie projekte te bespreek. Deel twee is die Wêreld-staproete-konferensie van Sondag 25 tot Donderdag 29 September, waar ek ’n spreker is en op Woensdag 28 September meer oor die Idasvallei-gemeenskapstaproetes projekte gaan praat. Ek is ook deel van die konferensie en sal ander sessies en praatjies rakende staproetes bywoon.
“Deel drie is die Groenvlag-staproetes-opleiding, en dit is van Vrydag 30 September tot Saterdag 1 Oktober. Hier gaan ons opgelei word om roetes regoor die wêreld volgens die Groenvlag-standaarde te beoordeel,” sê Basson, ’n stigterslid van die Idasvallei-gemeenskapstaproetes.
Met minder as twee weke oor voordat hy na die konferensie vertrek, kon hy daarin slaag om R10 200 van die R19 000 wat nodig is om die bykomende reis, verblyf en etes te dek, in te samel. “Ek is baie dankbaar vir almal wat my tot dusver ondersteun het. Ek kort nog ’n bietjie meer as R8 000 om my teiken te bereik en ek weet ek gaan dit maak,” voeg hy by.
. Enigeen wat ’n bydrae tot Basson se reiskostes wil lewer, kan ’n skenking by die Idasvallei-gemeenskapstaproetes by FNB, rekeningnommer 6286766775, met die verwysing WTN 2022, inbetaal.


