Inwoners loop met plakkate deur die strate van Idasvallei na die huise van dwelmbase.

Credit: SYSTEM

Die gemeenskapsorganisasie Genoeg is Genoeg in Idasvallei het Sondag 1 Oktober ’n suksesvolle optog deur die strate van Idasvallei gehou.

Volgens Stephanie Heneke, ’n gemeenskapsaktivis, is drie verdagtes sedert die ontstaan van die organisasie in hegtenis geneem.

“Ons, as inwoners van Idasvallei, is net keelvol van die dwelmverslaafdes wat ons strate bewandel, mense beroof of goedere uit motors steel. Met die goeie samewerking van die polisie en die gemeenskap probeer ons nou ons strate terugvat om vir ons kinders ’n beter omgewing te skep,” sê sy.

Die optog is ook gehou na huise van vermeende dwelmbase wat na bewering die dwelms verkoop en ook glo die gesteelde goedere ontvang om later van die hand te sit.

Heneke is dankbaar vir almal wat sedert die ontstaan van die organisasie help om Idasvallei weer tot sy reg te laat kom. Sy sê die gemeenskap staan bankvas agter die organisasie.

“As gemeenskap het ons inhegtenisnemings gedoen en die beskuldigdes aan die polisie oorhandig, en toe hulle in die hof verskyn, was ons daar om borgtog teen te staan. Ons het ook wonderlike samewerking met die hof, buiten met die polisie, en ek glo ons sal binnekort korte mette maak met al die misdaad in ons gemeenskap,” sê Heneke.

Verder word slagoffers van geslagsgebaseerde geweld in Stellenbosch en omliggende gebiede wonderlik ondersteun deur Wings of Love and Hope, ’n organisasie sonder winsbejag.

Heneke is die stigterslid van die organisasie en word gesteun deur tien lede wat slagoffers ondersteun en bystaan wanneer hulle in die landdroshof moet verskyn.

“Die organisasie bestaan al ’n paar jaar en het begin met ons terug-skool-toe-projek waar ons kinders, veral in Vlottenburg, met hul eerste skooluitrustings en skryfbehoeftes gehelp het. Die hulp het nou uitgebrei om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te help en ons fokus nou hoofsaaklik hierop,” sê Heneke.

“Wanneer ons bewus word van ’n slagoffer, gaan ons saam met die persoon hof toe om te wys dat hulle nie alleen is nie. Baie van die sake het voorheen verlore gegaan, want die slagoffers word in die hof deur die verdagtes, hul families en hul prokureurs geïntimideer, en omdat hulle bang is, word die sake teruggetrek.”

Danksy die goeie samewerking met die hof, word die eerste ry sitplekke in die hof agter die beskuldigdes vir die slagoffers en hul families uitgehou en neem die verteenwoordigers van Wings of Love and Hope ook hul plekke daar in.

Volgens Heneke is werkloosheid een van die groot probleme waarmee gemeenskappe in Stellenbosch te doen het, en die organisasie het danksy goeie samewerking met Longlands in Vlottenburg begin om kospakkies op te maak en aan behoeftige gesinne uit te deel.

“Die terug-skool-toe-projek begin gewoonlik in Januarie wanneer ouers voorberei om hul kinders skool toe te stuur. Ons kies dan tussen twee en drie kinders wat die eerste keer skool toe gaan, om hulle volledig uit te rus – van skoolskoene en skryfbehoeftes tot ’n rugsak.

“Die geslagsgebaseerde-geweld-inisiatief word regdeur die Boland gehou en wanneer ons hoor van ’n slagoffer van verkragting, stap ons kaalvoet na die landdroshof om solidariteit met die slagoffer te wys,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.