Die ikoniese Stellenbosse wynlandgoed en leefstyl-bestemming Blaauwklippen en die toonaangewende familie-maatskappy Van Loveren in die Robertson-vallei het onlangs aangekondig dat hulle ’n strategiese vennootskap sal aangaan wat daarop gemik is om hul vooraanstaande aanbiedings aan die plaaslike mark ’n verdere hupstoot te gee, maar spesifiek om van hul fynproewers-handelsmerke ’n veel stewiger vastrapplek in die wêreldmark te gee.
In wat beskryf word as ’n drieledige wenners-konsep – vir die vennote asook die land se wynbedryf in die groter prentjie – sal die vennootskap aanvanklik op die produksie en verspreiding van hul voorste wynportefeuljes fokus. Deur verhoogde “premiumisasie” en ’n strategie van saamwerk deur elke vennoot se unieke sterkpunte (“best-of-strength”) ten volle te benut, is hul doel om veral nuwe geleenthede vir Blaauwklippen se wynportefeulje in die plaaslike en internasionale mark te ontsluit.
Die Blaauwklippen-landgoed, wat dateer uit 1682 toe boerdery 340 jaar gelede op die plaas begin het, tel onder Stellenbosch se oudste wynplase en word beskou as een van die streek se baanbreker-wynprodusente wat veral in die 1980’s en 1990’s onder die land se mees bekroonde voorkeurhandelsmerke getel het. Van Loveren – ’n derdegenerasie-familieonderneming in die Robertson-vallei – is Afrika se voorste private wyn-onderneming in familiebesit. Die vennote sê voortspruitend uit die samewerkingsooreenkoms sal hulle hul wingerde uitbrei, produksievermoëns aansienlik verhoog en nuwe wyne as deel van hul vooraanstaande portefeuljes bekendstel.
Blaauwklippen is aan die voetheuwels van die Stellenboschberg geleë en beslaan 115 hektaar – met 51 hektaar wat onder wingerd beplant is. In die hartjie van die “Goue Driehoek” van die Stellenbosch Wynroete is die plaas se terroir deel van ’n gebied wat wyd erken word as die beste wynbou-substreek in die land – spesifiek bekend vir die gehalte van die rooiwyne.
In 2017 – toe Blaauwklippen weer in Suid-Afrikaanse besit gekom het nadat die plaas lank in buitelanders se besit was – is met ’n omvattende omkeerstrategie begin om die wynplaas se posisie as een van die mees ikoniese landgoedere in die land te herwin. Dit het die herbekendstelling van die hele vooraanstaande portefeulje ingesluit, met ’n bewese fokus op die gehalte en die vernuwing van die plaas se boetiekwyn-handelsmerke asook die kos-, ontspannings- en gasvryheid-aanbiedings wat omvangryk verbeter is.
“Die vennootskap met die Retief-familie van Van Loveren sal ons in staat stel om ons handelsmerk- en bemarkingsplanne te versnel en ons produksievermoëns te vervolmaak,” sê Ben-Carl Havemann, die uitvoerende hoof van Blaauwklippen.
“Vernuwing is al 340 jaar ’n hoeksteen van die Blaauwklippen-nalatenskap. Ons glo Van Loveren is die ideale vennoot om saam met ons te werk om ons suksesse verder uit te bou, ons storie op meer maniere te vertel met behulp van meer kundiges wat saamwerk, en dit met meer eindverbruikers oor die wêreld heen te deel,” het Havemann gesê.
Vir Van Loveren en die Retief-familie is die vennootskap hul eerste amptelike toetrede tot die Stellenbosch Wynstreek. As ’n bekroonde familieboerdery het Van Loveren en die Retieffamilie se vooraanstaande handelsmerke oor die jare ’n stewige vastrapplek in die buiteland gekry, met ’n verskeidenheid van hul bekende gehaltewyne wat na meer as 68 lande uitgevoer word. Van Loveren is in talle van die onderskeie wyn-kategorieë ’n markleier.
“Stellenbosch staan bekend as die land se voorste wynstreek. As deel van ons diversifikasie, groei en evolusie, glo ons Blaauwklippen sal ’n uitsonderlike toevoeging tot ons groeiende portefeulje en spesifiek ons aanbieding wees,” sê Phillip Retief, Van Loveren se besturende direkteur.
“Blaauwklippen kán en behoort een van die land se wynhandelsmerke te wees wat die meeste bekroon en geniet word. Met ons beproefde verspreidingsnetwerk en spesifieke vaardigheid is ons opgewonde oor die potensiaal van die handelsmerk om ’n markleier in eie reg te word. Samelopend met ons oorhoofse en voortgesette groeistrategie, sien ons hierdie vennootskap as ’n unieke geleentheid om by ’n uitsonderlike wyn-handelsmerk, wyn-toerisme, die landbou asook ’n besonderse en uitstaande ligging betrokke te raak.”
Die omvang van samewerking sal gedoen word met die hulp van kundige raadgewers om aan relevante regulatoriese vereistes te voldoen.