Immuniserings­veldtog in skole begin eersdaags

Verpleegkundiges wat deel is van die skolegesondheidsprogram in die Kaapse Wynland-distrik maak gereed om tussen 11 Februarie en 20 Maart ’n entstof en inspuiting aan graad 5-leerders in openbare skole te bied.


rfvr

’n Gesondheidswerker dien die MPV-entstof toe.

Verpleegkundiges wat deel is van die skolegesondheidsprogram in die Kaapse Wynland-distrik maak gereed om tussen 11 Februarie en 20 Maart ’n entstof en inspuiting aan graad 5-leerders in openbare skole te bied wat hul lewe kan red indien ouers of versorgers die nodige toestemmingsbriewe voltooi.

In ’n deur die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, moedig hulle ouers en versor­gers aan om die immuniserings­veldtog teen die menslike papilloma­virus (MPV), wat lei tot servikale kanker, asook ’n inspuiting om kinders teen klem-in-die-kaak en witseerkeel te beskerm, te ondersteun. Die diens word gratis gelewer. 

Meisies in gr.5 wie se toestemmings­vorms voltooi is en wie nie in 2019 die MPV-entstof ontvang het nie, kan hierdie keer geënt word teen die MPV. Gr.5-seuns en -meisies wie se toestem­mingsvorms voltooi is, kan die inspui­ting teen klem-in-die-kaak en witseer­keel ontvang. 

“Daar is baie voordele aan die immu­nisering,” sê sr. Marilize du Toit, ’n skolegesondheids­verpleeg­kundige in die Langeberg wat vanjaar vir die eerste keer aan hierdie veldtog deelneem. “Ek is baie opgewonde daaroor, want ons kry die geleentheid om ’n klomp kinders se lewe te red en, glo ek, ook hul lewensgehalte vir die toekoms te verhoog.”

Die MPV lei volgens haar tot servikale kanker. “Tot 80% van alle vroue sal met hierdie virus in hul leeftyd geïnfekteer word. Hierdie virus lei tot 99% van alle servikale kankers en een uit elke 26 vroue in Suid-Afrika kry servikale kanker. Servikale kanker word dikwels nie vroeg genoeg opgespoor nie en eis baie lewens,” sê sy. 

“Die MPV-entstof is veilig en is ’n voorsorgmaatreël teen servikale kanker. Wanneer die entstof op hierdie jong ouderdom toegedien word, kan die liggaam ’n sterk weerstand teen die virus opbou. Dié entstof is sedert 2014 deel van die skolegesondheids­program. Elke meisie kry twee inspuitings, vyf tot ses maande uit mekaar,” lui die verklaring. 

In 2019 het die departement van gesondheid se gesondheidswerkers 1 112 skole in die Wes-Kaap besoek en het 85% van almal wat die geskikte ouderdom was en toestemming gegee het vir die entstof, die eerste dosis ontvang. Hoewel daar in die vorige veldtogte gefokus is op negejarige meisies in gr.4, is daar vasgestel dat sommige meisies wat later in die jaar verjaar, die geleentheid misloop. Die nasionale adviseringsgroep oor entstowwe het aanbeveel dat die entstof vanjaar toegedien word aan gr. 5-meisies.

Vanjaar se veldtog is selfs meer omvattend aangesien gr.5’s, wie se ouers of versorgers toestemming gegee het (meisies en seuns), die aanvulling teen klem-in-die-kaak en witseerkeel ook ontvang. Klem-in-die-kaak en witseerkeel is ernstige infeksies wat dodelik kan wees. 

Gekwalifiseerde professionele verpleegkundiges dien die MPV-entstof toe deur ’n inspuiting in die linker bo-arm en die inspuiting teen witseerkeel en klem-in-die-kaak in die regter bo-arm. Die gebied waar die inspuiting gegee is, kan sensitief wees na die tyd, maar daar is nie ander newe-effekte nie. Hierdie gratis entstowwe kan slegs toegedien word indien ouers of versorgers toestemming gee. Dis belangrik dat ouers of versorgers die toestemmingsvorms teken en terug stuur aan die skool verkieslik ’n week voor die veldtog begin.

Vir nog inligting oor die MPV-veldtog, besoek https://www.westerncape.gov.za/general-publication/hpv-vaccinations

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.