Die saak teen Elizabeth Japie van Jamestown sloer steeds voort weens haar gebrek aan ‘n regsverteenwoorder.
Japie (58) staan te reg weens die moord op haar sesjarige susterskind, wat sy na bewering verlede jaar doodgemaak het.
Die moordbeskuldige se laaste hofverskyning was op Maandag 22 September, toe haar nuwe regsverteenwoordiger nie die nodige dokumente aan die hof kon verskaf nie.
LEES OOK: Jamestown se Japie weer in hof, bly in aanhouding
Nadat Japie se nuwe prokureur geen bewyse kon bied dat sy ‘n praktiserende regspraktisyn is en aan watter regsfirma sy verbonde is nie, is die saak tot Maandag 3 November uitgestel.
Vandeesweek moes die hof egter weer hoor daar is probleme met Japie se regsverteenwoordiger.
Die nuwe prokureur het by monde van die staatsaanklaer, William da Grass, glo gesê sy kan nie in die hof wees nie, maar sy sal iemand stuur om dit so aan die hof te verduidelik.
Sy het glo ook aangedui sy sal Japie nie meer kan verteenwoordig nie, nadat Japie se aanvanklike prokureur ook onttrek het – glo weens die “gekompliseerde saak”.
LEES OOK: Jamestown-tannie verander prokureur voor moord-verhoor
Maandag teen 14:00 het niemand egter opgedaag om Japie te verteenwoordig nie en sy het uiteindelik besluit om van ‘n regshulp-prokureur gebruik te maak.
Die 10 aanklagte waarop Japie tans teregstaan, spruit uit Zandré Japie se dood.
TRAGIESE VERHAAL
Patricia Japie het Zandré glo na haar suster (Elizabeth Japie) in Stellenbosch gestuur omdat sy glo nie plek vir hom in ‘n plaaslike skool naby hul woning in Khayelitsha kon kry nie.
In plaas daarvan om vir hom in ‘n Jamestown- of Stellenbosch-skool plek te kry, het Japie die seun bedags blykbaar alleen in die huis toegesluit.
Zandré is ‘n paar dae ná sy aankoms in die Eikestad – op Vrydag 3 Mei 2024 – in sy tannie se huis in Jamestown dood aangetref.
PATOLOOG GESKOK
Die hof het in Junie gehoor die staatspatoloog, wat die lykskouing uitgevoer het, was só geskok deur sy bevindings oor Zandré se dood dat hy die departement van maatskaplike dienste gekontak en aangeraai het om die beskuldigde se 12-jarige seun uit haar sorg te verwyder.
Zandré is vermoedelik onder meer met ‘n knopkierie en ‘n sambok gemartel. Onder die aanklagte is moord, kindermishandeling, dwarsboming van die gereg en om ‘n valse verklaring af te lê.
Die staat het Maandag aangedui hy is van plan om nog minstens vier klagte by die klagstaat te voeg.
Die saak is tot Woensdag 10 Desember uitgestel. Japie word tot dan aangehou.




