Inwoners van Kylemore moet saans met flitsligte of lanterns loop. Foto: Angelo Julies


Ná meer as ’n jaar sonder werkende straatligte is inwoners van Kylemore steeds in die duister oor wie regtig verantwoordelik is vir die instandhouding van die ligte.

Inwoners hier sê hulle meld die probleem reeds sedert Maart 2021 by die Stellenbosch-munisipaliteit en Eskom aan, maar niemand wil hulle help nie.

“Eskom sê dis die munisipaliteit se verantwoordelikheid en die munisipaliteit sê weer op sy beurt dis Eskom se verantwoordelikheid. Ons is raadop. Ons weet nie meer watter kant toe nie. Dit is gevaarlik vir ons en ons kinders. Ons verdien dit nie,” het Eva Williams gesê.

Williams sê hulle moet saans met flitsligte of lanterns rondloop. “Dit lyk asof ons in die tyd voor die 1990’s of op ’n plaas woon; op die plaas is daar meer lig as hier. Iemand moet verantwoordelikheid neem.”

Stuart Grobbelaar, die Stellenbosch-munisipaliteit se woordvoerder, sê die munisipaliteit is ten volle bewus van die uitdagings rakende straatligte in Kylemore en sê die straatligte behoort aan Eskom en mag slegs deur Eskom reggestel of vervang word.

“Die munisipaliteit onderhandel al ’n geruime tyd met Eskom om die bestuur van die straatligte in die gebied oor te neem – soortgelyk aan wat ons in Jamestown gedoen het. Ongelukkig mag ons nie aan infrastruktuur raak wat nie aan ons behoort nie en ons bly druk uitoefen op Eskom om die bestuur van straatligte in die gebied aan ons oor te dra,” voeg hy by.

Eskom sing egter ’n ander deuntjie en sê hy het alle straatliginstandhoudingskontrakte wat hy met munisipaliteite in die Wes-Kaap het, in Mei vanjaar gestaak.

“Die beëindiging van straatliginstandhoudingsdienste en die oorhandiging daarvan aan die munisipaliteite het op Maandag 7 Februarie 2022 in werking getree.

“Die Stad Kaapstad en alle ander Wes-Kaapse munisipaliteite is oor die besluit ingelig. Eskom is in gesprek met die munisipaliteite om veilige en doeltreffende oorhandiging van bedryfsdienste te verseker,” het Eskom gesê.

Volgens Eskom het alle Wes-Kaapse munisipaliteite diensvlakooreenkomste en tegniese riglyndokumente ontvang met aanbevelings vir die onderneming van instandhouding en werking van straatligte.

“Die instandhouding en werking van straatligte is die verantwoordelikheid van die plaaslike en provinsiale regering.

“Lede van die publiek moet alle navrae oor straatligte aan hul betrokke plaaslike munisipaliteit rig,” sê Eskom.

In antwoord op Eskom se kommentaar het die Stellenbosch-munisipaliteit gesê hy verwelkom die aankondiging wat Eskom op 5 Julie in ’n persverklaring gedoen het, aangesien die munisipaliteit nou uiteindelik alle straatligte in sy munisipale gebied sal kan diens, waarvan sommige vroeër onder die direkte bestuur van Eskom geval het.

“Dit is iets waarvoor die munisipaliteit al jare lank vra. ’n Volledige veilige oorhandiging het nog nie plaasgevind nie, maar sal binnekort gefinaliseer word, waarna ons kan inspring om straatligte in Kylemore te herstel en te vervang,” het Grobbelaar gesê.

Hy voeg by: “Hoewel ons hierdie aankondiging verwelkom, is ons bekommerd oor die manier waarop hierdie oorhandiging summier op munisipaliteite afgedwing word, aangesien die toestand van Eskom se straatlignetwerke ’n risiko inhou vir die spanne wat instandhouding sal verrig. Die munisipaliteit sal nou finansiering en bykomende personeel moet bekom om die netwerke, wat deur Eskom afgeskeep is, in ’n aanvaarbare en werkende toestand te kry.”

You need to be Logged In to leave a comment.