Die bestuur van natuurgebiede in en om Stellenbosch was onlangs onder die soeklig.
“Dit was van groot belang vir die dorp en sy omgewing en sonder presedent,” sê prof. Hans Eggers, die voorsitter van die Vriende van Stellenboschberg (FSM).
Vier spanne inspekteurs van die nasionale departement van bosbou, visserye en omgewingsake se inspektoraat vir omgewingsbestuur (EMI) het sowat 130 eiendomme in die dorp en distrik inspekteer. Die groot natuurgebiede van CapeNature, die Stellenbosch-munisipaliteit en Mountain to Ocean (MTO) Kaapse roetes het spesiale aandag geniet, maar private eiendomme, riviere en kwekerye was ook op die lys.
Die departement poog om te verseker die bestuur van sensitiewe gebiede word volgens die relevante wetgewing, veral wetgewing vir biodiversiteit, gedoen. Die departement is gemagtig om dié wette af te dwing.
Inspekteurs het veral gekyk na die beheer van indringerplante, onder meer wattel, denne en bloekoms. Dié spesies is ’n bedreiging vir inheemse plante omdat hulle soveel vinniger vermeerder.
Eggers verduidelik ná elke veldbrand ontplof die spesies se getalle, omdat miljoene opgehoopte sade ontkiem en die plek van inheemse plante inneem.
Die FSM is sedert 2008 aktief besig om uitheemse indringerplante te verwyder – veral in Paradyskloof se natuurgebied en die westelike hange van die Stellenboschberg.
Die organisasie hou maandeliks vrywillige uitwissingsoptredes (hacks) in Paradyskloof, waartydens indringerspesies uitgeroei word.
Indien dit nie beheer word nie, vernietig die indringers later riviere en hele ekostelsels. Dié soort spesies is ook ’n groot brandgevaar en vererger erosie.
“Drastiese optrede is dringend nodig om die verspreiding van indringers te stop en om te keer,” sê Stiaan Kotze, die hoof van die departement se inspektoraat.
“Die gebrek om indringerplante te beheer, veroorsaak dat dinge veel erger word en kos die belastingbetaler en die land uiteindelik veel meer geld.”
Voorbereidings vir die onlangse plaaslike optrede het in 2021 reeds begin nadat die FSM aan die destydse minister van omgewingsake, Barbara Creecy, geskryf het.
“Ons was baie bekommerd oor die verslegtende toestande in Paradyskloof, ons tuisgebied. Danksy uitstekende vroeë werk deur Working for Water en ons eie pogings, asook kontrakteurswerk, was indringerplante teen 2019 plaaslik meestal in bedwang. Sedertdien was daar egter ’n groot toename op die boonste hange van Stellenboschberg en in die laagliggende gebiede,” sê Eggers, ook ’n medestigter van die FSM.
“Ons het bewus geraak dat dieselfde probleme ook in onder meer Papegaaiberg, Botmaskop, Idasvallei en Mont Rochelle ontstaan. Die Stellenbosch-munisipaliteit het nie die nodige bronne verskaf om die probleem voldoende aan te durf nie. Ons het toe besluit om aan die minister te skryf.”
Die FSM was dus in hul noppies toe Creecy die omvang van ondersoeke uitgebrei het om alle natuurgebiede en nie net die munisipale gebied nie, in die distrik in te sluit.
Eggers meen dit is sinvol, aangesien indringerplante vryelik oor eiendomsgrense heen migreer. “As jou buurman nie die wet op sy eiendom nakom nie, ly jy ook.”
- Stellenbosch-inwoners kan oortredings van omgewingswette by die nasionale departement se omgewingsmisdaadlyn by 0800 205 005 of per e-pos by envirocrime@dffe.gov.za aanmeld.