Die lewe van meer as 350 000 jong meisies is die afgelope 10 jaar in die Wes-Kaap teen kanker beskerm.
Ouers en gesondheidswerkers het saamgespan om seker te maak dat jong meisies teen die menslike papiloomvirus (MPV) ingeënt word sodat hulle ’n verminderde risiko het om as volwassenes servikale kanker te kry.
Die provinsiale departement van gesondheid en welstand se skole-gesondheidspanne besoek tot Dinsdag 20 Maart openbare en spesiale skole om die MPV-entstof gratis toe te dien. Alle meisies in graad 5, wat nege jaar en ouer is, kan die inenting teen die virus kry om kanker te voorkom.
Sr. Fiona Wiid van die departement van gesondheid en welstand in die Drakenstein-subdistrik sê sy doen baie moeite om met onderwysers en leerders te praat sodat hulle die belangrikheid van die entstof verstaan. Slegs meisies wie se ouers of voogde toestemming gee, sal die gratis entstof ontvang.
“Voorkoming is beter as genesing. Dit is beter om nou die entstof te kry eerder as om eendag vir kanker behandel te word,” sê Wiid, wat deel was van die spanne wat 10 jaar gelede met die veldtog begin het.
Servikale kanker raak die lewe van baie vroue in die provinsie, maar die MPV-entstof is ’n doeltreffende wapen teen die virus en word gratis aan meisies wat kwalifiseer, aangebied. Dit is deel van die regering se toewyding om so veel as moontlik lewens te red.
“Die MPV-entstof is ’n doeltreffende manier om servikale kanker te voorkom. Dit is veral doeltreffend wanneer dit toegedien word voordat die individu seksueel aktief is, dus beveel ons aan dat dit vroeg in die tienerjare toegedien word,” sê dr. Nomonde Mbatani van die afdeling van obstetrie en genikologie by die Groote Schuur-hospitaal.
Die departement het sedert 2014 byna 350 000 entstowwe in die provinsie toegedien, en bereik jaarliks ongeveer 1 200 skole.
Die entstof bied ’n unieke geleentheid aan almal om hande te vat om die gesondheid van meisies en vroue te beskerm. Gesondheidswerkers in die Breedevallei, Drakenstein, Langeberg, Stellenbosch en Witzenberg moedig ouers aan om die toestemmingsbriewe wat hulle van skole ontvang, te onderteken en terug te stuur skool toe sodat hul dogter die entstof kan ontvang.
Die veldtog teen MPV is deel van inisiatiewe van die Wêreldgesondheidsorganisasie om servikale kanker teen 2030 te beëindig. Die eerste stap is om toe te sien dat 90% van meisies teen MPV teen die ouderdom van 15 ingeënt word. Deur soveel as moontlik meisies wat nege jaar en ouer is in te ent, kan MPV in die volgende paar jaar beëindig word.