Joep Pelt (regs) met Soweto Soul vermaak die gehoor op die verhoog. Pelt, van Nederland, sal saam met ander dinamiese musici tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees optree.


Sonografie: Grepe in Roots en Blues is Woensdag 2 Oktober om 16:00 by die Fismer-saal in die Universiteit Stellenbosch-konservatorium as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees op die planke.

Dit word deur Womad South Africa 2024, in samewerking met die Woordfees en die Universiteit Stellenbosch se musiekdepartement, aangebied.

World of Music, Arts & Dance (Womad) is in 1982 deur Peter Gabriel gestig. Sedertdien het die organisasie se ryk etos van lokaliteit, globale ritmes en klanke na miljoene in meer as 32 lande gereis. Die spesiale konsert, Sonografie: Grepe in Roots en Blues, is Womad SA se eerste aanbieding by die Toyota Stellenbosch Woordfees.

Die produksie is ’n verkenning in klank en musiek van storievertelling en vraagstelling.

Die kunstenaars vertel stories in en deur klank, aan die hand van instrumente, musikale idiome en die herinneringe wat hulle ontketen: uhadi, Khoe-klanke, onbegeleide stem en Mississippi blues. Hul vrae is ’n teken van hoop – hoe luister ons opnuut, met nuanse en kompleksiteit? Iskwew Singers (Kanada; stemme), Joep Pelt (Nederland; dobro resonator kitaar en stem), Ncebakazi Mnukwana (stem en uhadi) en Garth Erasmus (Khoe-instrumente en saksofoon) is deel van die produksie.

Erasmus, wat onder meer die ghôrrah (kalbasboë), mondboë en eoliese pype gaan speel, sê die instrumente wat hy speel, verteenwoordig die fisieke manifestasie van sy reis van selfontdekking. “Dit is instrumente wat ek as jongman sedert die middel 1980’s self gemaak en gespeel het. Hulle verteenwoordig my gehegtheid aan my inheemse (KhoiSan-) wortels en tree op as bewys van bestaan van hierdie Eerste-Nasie-wortels, ten spyte van al die historiese pogings om die teenwoordigheid daarvan in ons samelewing uit te wis deur die gekombineerde vernietigende kragte van veelvuldige tydperke van kolonialisme en, uiteindelik, Apartheid.”

  • Meer inligting en kaartjies is aanlyn by woordfees.co.za verkrybaar.

You need to be Logged In to leave a comment.