Tydens die skool word die plek erg besoedel bome word afgekap, strukture word opgerig inheemse plantegroei word vernietig, vars water bronne word besoedel en die plek word in haglike toestande gelos. Foto: Eon Hendrickse

Credit: SYSTEM

Die Idasvallei-natuurreservaat word sedert November deur ’n groep van die Basotho- en Hlubi-stamme vir ’n inisiasieskool beset.

Die natuurreservaat, wat aan die voet van die Simonsberg geleë is en deur welbekende wynplase soos Tokara, Dellair Graff, Kelsey Farm en Rustenberg Wines omring word, behels 230 hektaar natuurgebied met unieke plantegroei, diere en twee mooi damme.

Hierdie diverse natuurgebied is ’n kerndeel van die gemeenskap van Idasvallei se ekonomie. Inwoners hier gebruik die natuurgebied om ’n bestaan te voer deur hout te kap en vir toerismebe­dry­wighede, natuurbewaring en vir ander ontspanningsaktiwiteite.

Die bekende Absa Cape Epic-fietsren strek deur Idasvallei en die Wild Runner Out Trail Series word ook hier gehou.

Ons gebruik die gebied vir oefen, stap en fietsry en ons het ook wine walks met Visit Stellenbosch, en het onlangs die Woordfees se leefstyl-staptoere aangebied. Die gebied vervul ’n groot rol in die ekonomie van die gemeenskap en Stellenbosch as ’n dorp. Dit help ook om integrasie en maatskaplike kohesie te bevorder.

Die besetting vir die inisiasieskool deur die Basotho’s en die Hlubi-groep word ten sterkste deur die gemeenskap van Idasvallei teengestaan. Die gemeenskap is om vele redes daarteen gekant.

Eerstens – die gebrek aan konsultasie met die belanghebbendes en gemeenskap. As die inisiasieskool plaasvind, word toegang vir die plaaslike gemeenskap verbied.

Tweedens – die ligging van die inisiasieskool. Hierdie inisiasieskool vind plaas op een van die belangrikste roetes wat bekend staan as die Idasvallei-gemeenskapstaproetes en is een van Stellenbosch se buitelugsport- bates.

Hierdie inisiasieskool is duidelik nie tot voordeel van toerisme-ontwikkeling en buitelugtoerisme-aanbiedings vir Stellenbosch en die Idasvallei-gemeenskap nie. Die skool benadeel en onderdruk ekonomiese ontwikkeling direk, want verskeie sakeondernemings en gemeenskappe word benadeel – dít nadat die toerisme­bedryf tydens die pandemie ’n knou gekry het.

Nog ’n groot kommer is die negatiewe impak van die inisiasieskool op natuurbewaring en die ekologiese impak op die natuur. Tydens die skool word die natuur erg besoedel met glas van drankbottels sowel as plastiek en vuur wat gemaak word. Die diere wat in daardie habitat woon, oorleef eenvoudig nie. Bewaringsdoelwitte vir so ’n gebied is ingestel; ek onthou Anton Rupert het altyd gesê ons is niks sonder die natuur nie; daarom moet dit bewaar word.

Tydens die skool word die plek erg besoedel, bome word afgekap, strukture word opgerig, inheemse plantegroei word vernietig, varswaterbronne word besoedel en die plek word in ’n haglike toestand gelos. Die gebied het die potensiaal om een van Stellenbosch se mees gesogte natuurbates te wees, maar dit word so verniel.

Die gemeenskap is ongelukkig omdat dit nie eens mense van ons dorp is wat dit so opmors nie, en omdat ons toegang geweier word tot ’n plek wat ons eie is en in ons agterplaas is. Een groep word bevoordeel om hul kultuur te beoefen terwyl ’n ander groep weerhou word om toegang tot natuurgebiede en oop ruimtes te kry. Vir my klink dit na grondwetlike kwessies.

Die gemeenskap van Idasvallei het die afgelope tyd soveel vordering gemaak deur die gemeenskapsorganisasie Idasvallei-gemeenskapstaproetes, wat eienaarskap van die gebied geneem het en wat soveel ekonomiese, opvoedkun­dige en natuurbewarings­geleenthede vir jong mense in die gemeenskap geskep het. Kinders het begin fietsry, ouers het begin stap en bejaardes het net kom asemhaal – en dit word alles net so weggevat.

Dit is uiters disrespekvol teenoor die gemeenskap. Met die vordering wat Idasvallei-gemeenskapstaproetes gemaak het om die gebied in iets om te skep wat die gemeenskap self volhoubaar kan maak, moet dit ondersteun word deur munisipaliteite en ander regeringsinstansies, en nie onderdruk word nie.

Ek, Eon Hendrikse, respekteer verskillende kulture en is ’n voorstander dat ons diversiteit as Suid-Afrikaners moet vier. Dit is as gevolg van die diversheid in ons land dat ons so ’n mooi land het wat ryk aan kultuur is.

Ek het grootgeword met die idee dat inisiasieskole in sekere kultuurgroepe ’n respekvolle en baie ou tradisie is. Dit is waar jy ’n man word, soos hulle sê. So, ek is onder die indruk dat dit ’n baie geheimsinnige en respekvolle tradisie is.

Nadat ek nou met hierdie voorval te doen gehad het en fisiek gaan kyk het wat daar gebeur, is ek geskok. Ek voel die kollig moet op wat regtig tydens inisiasie gebeur, geplaas word, want die hoeveelheid drankbottels wat gekry word, wys dat heelwat sterk alkohol daar gedrink is. Die manier waarop die plek bemors word, dui nie aan dat hulle respek vir die natuur het nie. En as jy nie die natuur kan respekteer nie, hoe gaan jy ander respekteer? So, ek dink ’n mens moet kyk na wat regtig by inisiasieskole gebeur.

Die groep moet ’n alternatiewe gebied gegee word en oorsig moet gereeld gedoen word om die invloed daarvan op die natuur te bestuur. Oorsig moet ook gedoen word om te verseker dat aan basiese menseregte tydens dié skole voldoen word. Drank moet verbied word en ander gemeenskappe moet opgevoed word oor ander kulture sodat ons mekaar beter kan verstaan.

Maar, dit kan nie so werk soos dit nou werk nie – die natuur kry seer, die gemeenskap ly ekonomiese verlies en wrywing word geskep tussen groepe in ’n tyd wanneer ons land en dorp dit nie kan bekostig nie.

Eon Hendrikse,

Idasvallei, Stellenbosch

You need to be Logged In to leave a comment.